As ’n besige ma het jy nie noodwendig tyd om soggens ure voor die grimeerspieël te staan nie. Gelukkig is daar ’n paar slim-grimeertruuks wat jou sal help om in ’n kits op jou mooiste te lyk. Jy sal afgerond en versorgd lyk.

Hier is ’n paar wenke wanneer jou tyd min is:

1. Gebruik ’n poeier-onderlaag 

Dis die vinnigste oplossing vir egalige bedekking. Gebruik ’n groot, donsige onderlaagborsel om dit aan te wend. Jy kan selfs donker kringe onder jou oë daarmee verbloem.

2. Blosser kan meer as een doel dien

Dit laat jou gelaat vars en gesond lyk. Wend dan sommer die laaste bietjie blosser op jou borsel aan jou ooglede vir ’n sagte pienk skakering op jou oë. Perfek vir die dag.

FOTO: Getty

3. Maskara is ’n moet

Maskara laat jou oë onmiddellik groter en vol lewe lyk. Dis vinnig om aan te wend en rond jou oë mooi af. Kies ’n maskara in ’n gitswart skakering. Net ’n paar lae is dan nodig om vining ’n verskil te sien.

4. Laat vorm jou wenkbroue

Dit is die tyd én moeite werd om aandag aan jou wenkbroue te gee. Maak ’n afspraak om jou wenkbroue te laat vorm. Dit raam jou gesig en laat jou goed versorg voorkom. Dit is maklik om later die paar uitgegroeide hare weer vining te pluk sodat die vorm behoue bly.

FOTO: Getty

5. Kies ’n lipstiffie wat lank hou

Lipstiffie gee kleur aan jou gelaat wat help om jou jonger te laat lyk. Kies ’n lipstiffie wat ’n matafwerking het en langer hou sodat jou voorkoms teen die einde van jou besige dag steeds mooi lyk.