Die perfekte onderlaag is sekerlik een van die belangrikste grimeerkeuses wat jy kan maak. Vir ’n foutlose en natuurlike voorkoms is dit veral belangrik om die korrekte skakering te kies. As jy ’n kleurverskil tussen jou gesig en jou nek sien, moet jy jou kleurkeuse heroorweeg. Die verkeerde onderlaag skakering kan jou vel vaal, leweloos of selfs “swaar” laat lyk.  

Gelukkig is daar al meer ’n wye verskeidenheid van onderlaag-skakerings, wat alle velkleure in ag neem, om van te kies. Skoonheidshuise se onderlaag-skakerings was voorheen baie beperk en het nie ’n perfekte skakering vir elke velkleur gehad nie. Die sanger Rihanna, wat die skoonheidshuis Fenty Beauty verlede jaar geloods het, het dié gaping geïdentifiseer en ’n reeks onderlae met soveel as 40 skakerings bekendgestel. 

Hoe kies jy die regte skakering? Volg dié wenke:

#1 Wanneer jy ’n nuwe onderlaag toets, moenie dit te veel in jou vel in skakeer nie. Tik dit liggies aan die bokant van jou wangbeen afwaarts tot net onder jou kakebeen. Kies die skakering wat lyk asof dit in jou vel in “verdwyn”.

#2 Toets altyd onderlaag in natuurlike lig.

#3 Moet nooit onderlaag op jou hande toets nie. Jou hande is gewoonlik meer sonbruin as jou vel.

#4 Dit is belangrik om jou onderlaag tussen winter en somer te verander aangesien jou vel meer aan die son in die somer blootgestel word en dikwels ’n skakering of twee donkerder is.

#5 Neem ook jou ondertoon in ag: ’n rooskleurige gelaat beteken dat jy ’n koel ondertoon het, ’n geel/goud gelaat beteken dat jy ’n warm ondertoon het. Soek dus vir ’n onderlaag wat dieselfde kleur as jou vel se ondertoon is. Die meeste produkte dui die ondertoon aan: C vir koel, W vir warm en N vir Neutraal.

Die onderlaag-reekse spog met ’n wye verskeidenheid skakerings

1. Lancôme Teint Idole Ultra Wear bied 40 verskillende skakerings (R550)

2. Bobbi Brown Skin Long-Wear Weightless Foundation SPF 15 bied 30 verskillende skakerings (R635)

3. Avon True Color bied 18 verskillende skakerings (R155)

4. NYX Total Control bied 24 verskillende skakerings (R230)

5. Maybelline Fit Me verbloemers is in 9 skakerings beskikbaar (R110)