Die laaste paar jaar al is meer natuurlike, voller wenkbroue weer hoogmode. Bekendes soos Lily Collins, Cara Delevingne, Emilia Clarke en Kaia Gerber het dié tout naturel-voorkoms weer gewild gemaak.

Maar hoe kry jy wenkbroue wat natuurlik lyk sonder om slordig te lyk?

Die SARIE-skoonheidspan het met Yolandé Swanepoel, dosent by die Isa Carstens Akademie, gesels. 

“Die regte wenkbrouvorm kan wondere vir jou voorkoms doen en jou jare jonger laat lyk,” sê Yolandé.

Sy beveel aan dat jy heel eerste ’n afspraak met ’n professionele terapeut maak om jou te help om jou wenkbroue te vorm. “Daar is verskeie tegnieke hiervoor beskikbaar, en terapeute gebruik gewoonlik ’n kombinasie daarvan.”

@i_d @mario_sorrenti

A post shared by Kaia (@kaiagerber) on

Waks

Waks is een van die gewildste en vinnigste metodes om wenkbroue te vorm. “Die terapeut kan warm of koue waks gebruik, afhangend van die kliënt se veltipe. Warm waks is sagter op die vel en werk goed vir growwer haartipes, terwyl koue waks beter is vir fyner hare. Die voordeel van hierdie metode is dat baie hare én groter areas op een slag gedoen kan word,” sê Yolandé.

Pluk

Dis die tradisionele metode waar ’n haartangetjie gebruik word om die haartjies een vir een uit te pluk. “As jou wenkbroue eers met ’n waks- of threading-behandeling gevorm is, werk hierdie metode baie goed om self jou wenkbroue tussen behandelings in stand te hou. Dit verleng die tyd tussen salonafsprake.”

Threading

Dis ’n tegniek om wenkbroue met garingdraad te vorm. “Die terapeut beweeg ’n garingdraad oor die vel om só haartjies te verwyder. Dis vinnig en effektief, veral waar fyn gewerk moet word. Dit werk ook sagkens op die vel,” sê Yolandé.

Met jou wenkbroue gevorm kan jy dit nou kleur met semi-permanente kleursel. Soms is dit ook nodig om die wenkbroue met ’n wenkbroupotlood in te vul, vir ekstra definisie.

Probeer dié produkte:

1. Estée Lauder The Brow Multi-Tasker (R415)

2. Smashbox Brow Tech Loose Powder (R360)

3. Clarins Perfect Eyes & Brows Palette (R525)

4. Revlon Colorstay Brow Pencil (R185)

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady Emblem, INOAR, Isa Carstens Akademie, Kalahari en kykNET.

Onthou om elke Dinsdag om 17:30 die tweede seisoen van SARIE Voorbladgesig op kykNET (kanaal 144) te kyk.