Dis pas aangekondig dat die gewilde sanger Rihanna die voorbladster vir die September-uitgawe van die Britse Vogue is. En haar treffende wenkbroue op dié voorblad het ons heeltemal verras! Kan dit wees dat dié 90’s-gier weer terug is …?

FOTO: Instagram/@britishvogue
FOTO: Instagram/@britishvogue
FOTO: Instagram/@britishvogue

Op die treffende voorblad lyk dit asof Rihanna se wenkbroue heeltemal afgeskeer is en weer as dun strepies opgeteken is met ’n wenkbrou-potlood. Dunner wenkbroue wat met ’n wenkbrou-potlood geteken word, was gedurende die 90’s hoogmode. Baie vroue het ook hul wenkbrou-haartjies so dun as moontlik gepluk.

FOTO: Getty
FOTO: Getty
FOTO: Getty

Die laaste paar jaar is weliger, natuurlike wenkbroue gewild. Dis omdat weliger wenkbroue jou jonger kan laat lyk, sê Lana Pienaar, nasionale opleidingsbestuurder vir die grimeerreeks Inglot. Veral dikker wenkbroue wat ’n bietjie meer reguit loop, komplementeer die meeste vroue.

FOTO: Getty

Kry só die perfekte wenkbroue

* Wenkbroue lyk weliger wanneer jy die gapings tussen jou wenkbrouhaartjies met ’n oogskadu of wenkbroupotlood invul. Kies ’n skakering na aan die kleur van jou haarwortels. Vul jou wenkbroue in deur aan die onderkant ’n fyn lyntjie met jou potlood of oogskadu te trek. Skakeer dan die lyntjie met ’n hoekige wenkbrouborsel na bo.

* Dun garedraadjies om wenkbrouhaartjies te verwyder (threading) is baie gewild. Met dié tegniek kan ’n terapeut meer presies werk om die perfekte wenkbrouvorm te skep, asook die fynste haartjies te verwyder. Boonop word die fyn vel onder jou wenkbroue nie gerek nie.

* Tem wenkbroue met deurskynende wenkbrou-jel nadat jy jou wenkbroue ingekleur het. Dit sal jou wenkbroue in plek hou en die oogpotlood of oogskadu langer laat hou.