Maskara verrig wondere: dit verleng wimpers, krul dit, gee dit definisie en volume, en sommige produkte behandel selfs die wimperhaartjies. 

Maar volgens ’n artikel op die Amerikaanse nuuskanaal CNN se webblad het die verkope van maskara die afgelope tyd merkbaar afgeneem. Vroue begeer steeds lang en welige wimpers, ja, maar verkoopsyfers wys twee alternatiewe produkte begin die gewildheid van maskara nou verbysteek: wimper-verlengings en vals wimpers.

So sterk is die tendens dat verskeie Amerikaanse grimeerhuise die afgelope jaar of wat nie meer maskara as deel van hul reekse het nie. 

Dis dalk duurder, maar verbruikers soek nou produkte wat minder daaglikse inspanning verg en langer hou, volgens die artikel. Dis waarom al hoe meer vroue self vals wimpers aanwend of die salon besoek vir wimper-verlengings. 

Wimper-verlengings

Oorweeg jy dit om wimper-verlengings te kry, is dit belangrik om die voor- en nadele op te weeg. Al laat dit jou wimpers eksieperfeksie lyk, moet jy weet wat presies die proses behels en watter langtermyn-effek dit op jou natuurlike wimpers gaan hê.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Só werk dit:

Wimper-verlengings word met gom aan jou natuurlike wimpers geplak. Sodra jou natuurlike wimpers uitval, sal die verlengings dus ook uitval.  

Jy moet dit in ’n salon laat doen. Die proses neem ongeveer twee uur aangesien die haartjies een vir een aangewend moet word.

Verlengings kan so ses tot agt weke hou, afhangend van jou natuurlike wimpers se groeisiklus. HuffPost berig egter aanlyn jy moet elke drie tot vier weke nuwe verlengings kry.

Voordele:

1. Jou grimeervoorkoms lyk onmiddellik afgerond

Jou oë lyk dadelik groter en oper, dus kan jy baie minder grimering dra - en geen maskara nie!

2. Daar is verskillende verlengings om van te kies

Daar is verlengings vir volume, dikte én lengte, in van sy- tot veselstof.

Nadele:

1. Dis duur

Buiten die aanvanklike koste, gaan jy dit omtrent elke maand moet vervang.

2. Jou natuurlike wimpers word beskadig

Aangesien die verlengings daarop geplak word, kan jou natuurlike wimpers makliker uitval. Van die haartjies kan koek en uitval, en dan moet jy dalk alles uittrek.

3. Infeksie of allergiese reaksie

Verlengings is dalk nie altyd perfek skoon nie en kan tot infeksie lei. ’n Allergiese reaksie op die gom is ook moontlik. Die gom bevat chemiese bestanddele wat tot inflammasie, irritasie en droë oë kan lei.

4. Daar is voorsorgmaatreëls wat jy streng moet volg

Jy moet verkieslik nie ’n olie-gebaseerde grimeerverwyderaar gebruik nie. Dit kan die gom laat loskom. Jou wimpers moet daagliks versigtig geborsel word met ’n spesiale borseltjie om koeke te voorkom, en ’n serum of opknapper moet ook aangewend word. Jy moet ook so min as moontlik aan jou oë karring, want dit kan die verlengings beskadig.

Vals wimpers

Vals wimpers kom in ’n magdom verskillende vorms en groottes, sê Faith Seoue, grimeerkunstenaar en kenner van die produkreeks Eylure. Dis nie altyd maklik om te weet watter een reg is vir jou nie, veral as jy voor ’n rak vol verskillende produkte staan.

FOTO Instagram / Eylure Official

Só werk dit:

  • Gebruik ’n knyptangetjie om die vals wimpers uit die verpakking te verwyder. Meet die strook teen jou oog. As die strook langer is as die lengte van jou wimperlyn, kan jy ’n naeltangetjie gebruik om dit effens korter te sny, sê Faith.
  • Gebruik ’n oorstokkie om die gom liggies op die wimperstrook aan te wend. Wag dan vir sowat ’n minuut tot die gom effens taaierig voel.
  • Begin by die buitehoek van jou oog en wend met ’n knyptangetjie die strook so na moontlik aan jou wimperlyn aan. Wag sowat ’n minuut vir die gom om behoorlik droog te word. Die strook moet dan stewig teen jou wimperlyn lê.
  • Wend daarna vloeibare oogomlyner bo-oor die stroke aan, gevolg deur twee lae maskara om jou natuurlike wimpers en die vals wimpers in mekaar in te weef, sê Faith.
  • Om jou vals wimpers te verwyder, gebruik ’n olievrye grimeerverwyderaar om die gom te versag. Die vals wimpers sal dan maklik van jou oë afgly.

Voordele:

1. Dis veelsydig, maklik om te gebruik en kom gewoonlik saam met aanwendingsgom.

2. Vals wimpers help ook om kleiner oë breër en oper te laat lyk.

3. Dit skep ’n treffende voorkoms en vertoon goed op foto’s.

Nadele:

1. Dit kan tydrowend wees.

2. Dit kan moeilik wees om baas te raak. 

3. Dis belangrik om die regte vals wimpers te kies, anders kan jou voorkoms baie onnatuurlik en oordrewe lyk.

Bronne: edition.cnn.comwww.instyle.comwww.refinery29.comwww.huffpost.com