Treffende oogomlyner bly van die maklikste maniere om jou grimeervoorkoms op te kikker en impak te gee – dis dan nie eens nodig om enige ander grimering te dra nie.

’n Sterk swart katoog bly gewild, maar speel ook met helder kleure soos neongeel, groen, pienk, blou of wit, sê Lesley Whitby, grimeerkunstenaar van Johannesburg.

“Dis sexy en interessant sonder om te oordadig te wees.”

Baie grimeerkunstenaars en -liefhebbers wend oogomlyner ook in die vou van hul oë aan of eksperimenteer met ’n sogenaamde “deconstructed eyeliner”-voorkoms waar die lyn plek-plek onderbreek word.

Probeer een van dié voorkomste

Subtiel
SUBTIEL: Die sangeres Taylor Swift het by die Amerikaanse Musiektoekennings in Oktober verlede jaar ’n dubbele katoogvoorkoms gehad. Gebruik ’n swart vloeibare oogomlyner en trek ’n lyntjie met ’n klein vlerkie teenaan jou boonste wimperlyn. Gebruik dan ’n oogpotlood en trek teenaan jou onderste wimperlyn ’n sagte lyntjie en vlerkie wat parallel met die boonste een loop.
Kleurryk
KLEURRYK: Trek met ’n swart vloeibare oogomlyner ’n netjiese lyntjie met ’n vlerkie teenaan jou boonste wimperlyn. Gebruik sodra die swart oogomlyner droog is, ’n vloeibare oogomlyner in ’n kleurryke skakering soos blou of pienk en trek ’n tweede lyntjie al langs die bokant van die swart lyntjie. Die swart lyntjie help dat die kleur behoorlik uitstaan.
Waaghalsig
WAAGHALSIG: Skep ’n “deconstructed eyeliner”- voorkoms deur met ’n fyn gekleurde oogpotlood ’n kort lyntjie in die binnehoek van jou boonste wimperlyn en in die middel van jou onderste wimperlyn te trek. Trek ’n derde kort lyntjie in die buitehoek van jou oogbank.

Wenwenke:

  • Om vloeibare oogomlyner netjies aan te wend bly een van die moeiliker grimeertegnieke om baas te raak. “Ek vind die belangrikste is om jou elmboog iewers te laat rus, soos op ’n tafel of in jou ander hand, sodat jou hand so stewig as moontlik kan wees wanneer jy die lyntjie trek. En hou aan oefen, dit sal makliker word,” is Lesley se raad.
  • As jy ’n fout gemaak het, doop ’n oorpluisie in olievrye grimeerverwyderaar en vee met die punt liggies al langs die lyntjie om dit uit te vee. 

Probeer dié produkte:

produkte
Produkte wat jou grimering sal opkikker

1. Die sagte jelformule van Revlon Colorstay Crème Gel Pencil in Private Island (R149) gly maklik aan.

2. Die dikker punt van Elizabeth Arden Beautiful Color Bold Defining Felt Tip Liquid Eyeliner (R285) sorg vir ’n grafiese lyn.

3. Die unieke ontwerp van Sorbet Stroke of Genius Precision Pen Eyeliner in Bold Black (R200) maak dit makliker om ’n netjiese lyn te trek. By Clicks

4. As jy sensitiewe oë het, gebruik Physicians Formula Shimmer Strips Extreme Shimmer Eyeliner Trio in Smoky Eyes (R246). By Dis-Chem

5. Waag met pienk! Probeer Urban Decay Razor Sharp Water-Resistant Liquid Eyeliner in Junkshow (R330). By Urban Decay-winkels en Foschini