Dis húl mooiste dag, maar natuurlik wil jy as ma van die bruid of bruidegom nie jou voorkoms afskeep nie. Buiten ’n eksieperfeksie uitrusting en hare, wil jy seker maak jou grimering is afgerond en lyk mooi op die troufoto’s. Nie so gelukkig om ’n professionele grimeerkunstenaar te hê om jou grimering op die dag te doen nie? Ons kan help!

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Volg dié top-grimeerwenke vir ’n jeugdige voorkoms:

1. Vog vir jou vel

Jou grimering lyk die beste wanneer jou vel goed bevog is. Wend eerstens ’n serum en vogroom aan. Jy kan ook ’n bevogtigende basislaag (primer) voor jou onderlaag aanwend. Só hou jou grimering langer.

2. Kies reg met onderlaag

Vermy ’n poeier- of matonderlaag en soek eerder ’n onderlaag wat sal hou, maar ’n fluweel-afwerking het. Jou vel sal vars lyk, sonder dat jy uitgewas lyk op die foto’s.

3. Romerige formules

Kies romerige formules vir jou oë en wange. Oogskadupoeier gaan lê dikwels in die fyn lyntjies en plooie rondom jou oë, wat dit meer opsigtelik maak. Daarby lyk ’n romerige blosser natuurliker en gee jou gelaat ’n gesonde gloed.

FOTO: Getty Images / Gallo Images

4. Vir mooi oë

Gebruik ’n bruin oogomlyner-potlood om jou oë subtiele definisie te gee en effens rokerig te laat lyk. Swart oogomlyner is geneig om te hard te wees. Wend ’n paar lae swart (waterbestande) maskara aan en vul jou wenkbroue netjies in.

5. Kleur vir jou lippe

Dra ’n helderkleurige lipstiffie vir ’n jeugdige voorkoms. Kies ’n skakering soos koraalpienk, roos of rooi en wend eers ’n lip-omlyner voor die lipstiffie aan. Só lyk jou lippe voller, en die omlyner keer ook dat die lipstiffie in die fyn lyntjies om jou lippe "bloei".

Probeer dié produkte:

1. Filorga Time-Flash Express Smoothing Active Primer (R660)

2. Bobbi Brown Skin Long-Wear Weightless Foundation SPF 15 (R635)

3. Revlon ColorStay Crème Eye Shadow in Praline (R105)

4. Rimmel Royal Blush Cream Blush in Regal Rose (R75)

5. Elizabeth Arden High Drama Eyeliner in Espresso (R280)

6. Gosh Catchy Eyes Waterproof Mascara in Black (R157)

7. L.O.V Lip Affair Color & Care Lipstick in Silvia’s Coral (R230)