Die aktrise en TV-aanbieder Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, tel die dae af tot hul tweede seun, Joshua, gebore word. Volgens haar Instagram-blad is die dae min!

FOTO Instagram / Nadia Beukes
FOTO Instagram / Nadia Beukes

Ons het net voor die nasionale inperking by Nadia ingeloer en oor ma-wees, swangerskap en skoonheid gesels.

Met haar pragtige blou oë, treffende lipstiffie en foutlose hare is Nadia altyd die toonbeeld van styl.

“Ek sou sê selfvertroue en opregtheid in wie jy as mens is spreek vir my van skoonheid. Mense wat goed voel oor hulself, lyk sommer vir my ook goed. Daardie gemaklikheid met jou menswees wat van binne af straal, is vir my baie aantreklik. Nie almal kan soos ’n model lyk met die perfekte beenstruktuur, hare en liggaamsbou nie, maar egte skoonheid is beslis en gelukkig veel meer as net dit, in my opinie.”

Jy is nie bang om treffende lipstiffie te dra nie, wat is jou gunstelingkleur?

Hoe rooier, hoe mooier! Op ’n daaglikse basis verkies ek ’n meer neutrale lipkleur. Maar wanneer ek die dag bietjie ekstra woema nodig het, sal ek baie vinnig ’n helder lipkleur gebruik.

Coco Chanel het gesê: “If you’re sad, add more lipstick and attack.” As ek die dag ’n treffende lipkleur aanwend, voel ek sommer gereed om die wêreld aan te pak. Soos Gwyneth Paltrow sê: “Beauty to me is about being comfortable in your own skin. That, or a kick-ass red lipstick.”

FOTO Instagram / Nadia Beukes

Het jy raad vir vroue wat huiwerig is om treffende lipkleure te dra?

Probeer dit! Wie weet, dalk is dit presies wat jy nodig het. Daar is verskeie skakerings van enige mooi lipkleur en jy kan ’n skakering kry wat vir jóú werk.

Shop rond en kry iets wat nie op alles afsmeer nie, daar is baie long-wear opsies wat nie jou lippe uitdroog nie. Veral as dit kom by helder kleure, wil jy nie sukkel met lipstiffie wat op alles van glase tot klere afsmeer nie. Jou man sal ook iets wat nie sy lippe óók verkleur nie, baie meer waardeer!

Jou moet-hê-lipstiffie?

Ek gebruik graag M.A.C se Lustre-reeks op ’n daaglikse basis en daar is verskeie kleure waarvan ek hou:

1.  M.A.C Lustre Lipstick in Midimauve (R260)

Wat rooi lippe betref, is dít my twee gunstelinge:

1. Stila Stay All Day Liquid Lipstick in Fiery (R375)

2. Revlon Super Lustrous Lipstick in Love That Red (R120)

FOTO Willem Botha