Die Franse mode- en skoonheidshuis Chanel se internasionale kreatiewe direkteur van grimering, Lucia Pica, het in ’n onlangse mediaverklaring die eintlike doel van grimering benadruk. Grimering se doel is nie net om jou eie gelaatstrekke te komplementeer nie, maar óók jou persoonlikheid.

Min-moeite grimeerprodukte wat maklik aanwend en ’n foutlose, natuurlike voorkoms skep is in die kol. As jy op jou beste wil lyk is dit nie nodig dat jy hope grimering dra nie, sê Lucia.

“Die fokus is om jou bestaande skoonheid na vore te bring en ’n vars, glansende weergawe van jouself te skep.” 

Lucia glo dat die volgende drie produkte daarvoor nodig is: ’n vloeibare, getinte room, ’n romerige verligter en ’n veeldoelige palet.

1. ’n Romerige verligter

FOTO Instagram / Chanel Beauty

’n Verligter met ’n romerige tekstuur skakeer moeiteloos in en droog nie jou vel uit nie. Dit skep ’n treffende douerige en glansende afwerking. Wend dit aan die gedeeltes van jou gesig waar die son natuurlik val. Tik met jou vingerpunte die formule in sodat dit deel van jou vel lyk. Jy kan dit ook aan jou ooglede en lippe aanwend.

Maybelline Master Strobing Stick Illuminating Highlighter (R169) Beskikbaar aanlyn by www.takealot.com

2. Veeldoelige palet

Dis jou geheime wapen om in ’n kits jou grimeervoorkoms af te rond. Probeer Chanel se Palette Essentielle (R1 110) wat drie kern aspekte van enige grimeervoorkoms in een produk vervat. Die verbloemer verbloem merkies en verkleuring, die verligter skep glans en die blos gee kleur aan jou wange én lippe. Daar is vier verskillende skakerings beskikbaar. 

3. ’n Vloeibare, getinte room

FOTO Instagram / Chanel Beauty

Dra ’n ligte, getinte room om jou natuurlike gelaat te komplementeer en te verhelder. Die formule voel nie swaar en aangeplak nie en voel asof dit deel van jou vel vorm. Dit skep ’n egalige veltekstuur wat jou vel bevog hou. Wend dit voor- of na jou onderlaag aan of dra net die getinte room. Jy kan dit op jou hele gesig dra of net op spesifieke areas wat jy graag wil beklemtoon.

NYX Professional Makeup Bare With Me Tinted Skin Veil (R190)

La Mer The Reparative Skin Tint SPF30 (R1 440)