Wie onthou nog die 90’s se gewilde mood rings: ringe wat van kleur verander sodra jy dit aan jou vinger sit? Wel, in die skoonheidswêreld is daar nou ’n nuwe trend: lipstiffies wat van kleur verander!

Al hoe meer skoonheidshuise stel deesdae lipstiffies (en sommige ook blossers) met ’n "swart" formule bekend. Maar moenie jou bekommer nie, dit sal nie jou lippe (of wange) swart kleur nie!

Die produkte bevat ’n unieke pigment wat in ’n subtiele bessiepienk kleur verander sodra dit in kontak kom met jou vel. Dis ontwikkel om die natuurlike kleur van jou lippe te beklemtoon vir ’n mooi no make-up-voorkoms en bevat dikwels ook bestanddele om jou lippe goed te bevog. Ons dink dis perfek vir die koue maande.

Probeer dié 'swart' lipstiffies:

1. Catrice Ultimate Dark Lip Glow (R100)

Die formule is verryk met swartbessie-olie vir ekstra bevogtiging. By Dis-Chem

2. Givenchy Rouge Interdit Vinyl Lipstick in Noir Révélateur (R530)

Dié luukse lipstiffie het ’n romerige tekstuur en kan alleen of oor ’n ander lipstiffie aangewend word. By Red Square

3. The Body Shop Lip & Cheek Velvet Stick in Poppy Universal (R155)

Probeer dié vir ’n sagpienk skynsel op jou lippe én wange.