1. PROBLEEM: JY WEND TE VEEL ONDERLAAG AAN

Baie vroue glo jy moet onderlaag oor jou hele gesig aanwend, maar grimeerkunstenaars is dit eens dat minder beslis meer is. Selfs al verkies jy volledige bedekking, wil jy steeds hê jou onderlaag moet so na as moontlik aan jou natuurlike vel lyk, pleks van aangeplak.

OPLOSSING:

Begin onderlaag altyd in die middel van jou gesig aanwend omdat jou velkleur hier gewoonlik meer onegalig is en werk buitentoe, sê Emmanuelle Geoffrey, internasionale Pro Team-grimeerkunstenaar van Dior. Staan dan ’n tree terug en besluit of nog ’n bietjie onderlaag nodig is, net op dele met bv. pigmentasie of op merkies. So bou onderlaag nie onnodig teen jou haarlyn en rondom jou kakebeen op nie. “Wend ook altyd jou onderlaag in natuurlike lig aan, soos reg voor ’n venster met jou gesig wat buitentoe kyk.”

2. PROBLEEM: JOU ONDERLAAG PAS NIE BY JOU VELKLEUR NIE

Een van die algemeenste onderlaagprobleme waarmee die meeste vroue sukkel, is om ’n skakering te kies wat perfek by hul velkleur pas. Is die skakering te donker, lyk dit asof jy ’n masker op het, terwyl ’n te ligte kleur jou uitgewas en ouer laat lyk.

OPLOSSING:

Volgens Marco Louis Ackers, senior grimeerkunstenaar van M.A.C in Afrika, lê die geheim in jou vel se natuurlike ondertoon, wat hoofsaaklik koel of warm is. As jy weet wat jou velondertoon is, help dit jou om ’n skakering te kies wat die natuurlikste op jou gelaat gaan lyk. As jy ’n koel velondertoon het, wees op die uitkyk vir onderlaagskakerings met ’n effens rosige, blou of olyfkleurige skynsel. ’n Warm ondertoon lyk weer die mooiste met skakerings met ’n geel, perske of rooierige skynsel. 

ONTHOU! Jou gelaatskleur is geneig om donkerder te wees in die somer as gevolg van sonblootstelling. Daarom raai baie grimeerkunstenaars aan dat jy twee onderlaagskakerings tussen seisoene gebruik. Of probeer onderlaagdruppels wat jy by jou vloeibare onderlaag meng om die skakering ligter of donkerder te maak.

VIND JOU SKAKERING
  • Wanneer jy ’n nuwe onderlaag wil probeer, besoek die grimeertoonbank vir hulp. Vra die assistent om minstens vier skakerings op jou vel te toets. Laat hulle ook die onderlaag oor jou hele gesig aanwend sodat jy ’n behoorlike idee kan kry, sê Marco.
  • Vra vir ’n paar toetsbuisies wat jy huis toe kan neem om te sien hoe die onderlaag in natuurlike daglig op jou vel lyk.
  • As jy minder tyd het om te toets, tik die onderlaag liggies van die bokant van jou wangbeen afwaarts tot net onder jou kakebeen aan, sê Emmanuelle. Kies die skakering wat lyk asof dit in jou vel “verdwyn”. Tik ook ’n bietjie op jou voorkop waar jou velkleur soms donkerder is.
  • Moenie onderlaag op jou hande toets nie. Jou hande is gewoonlik meer sonbruin as jou gesig.

3. PROBLEEM: JY SET NIE JOU GRIMERING BEHOORLIK NIE

Onderlaag wat met ’n gesigpoeier geset word, laat jou grimering afgerond lyk en voorkom blinkheid deur die dag, maar jy moet altyd ’n ligte hand hê, sê David White, bedryfsbestuurder van Urban Decay. Te veel poeier op die verkeerde plekke laat jou vel té mat en leweloos lyk en kan selfs lyntjies, plooie en knoppies beklemtoon.

OPLOSSING:

Wend hoofsaaklik poeier op jou T-sone aan, want dié deel is geneig om olieriger as die res van jou gesig te wees. David verduidelik hoe: “Gooi ’n bietjie los, deursigtige poeier op ’n sneesdoekie en gebruik ’n groot poeierborsel om die poeier van die snesie af op te tel. Vee dan die borsel liggies sywaarts oor jou voorkop en afwaarts oor die res van jou gesig.” Probeer ook ’n gesigsproei.

WENK: ’n Spuitjie gesigsproei op jou onderlaagborsel voor jy jou onderlaag aanwend, sorg vir ekstra houkrag.

4. PROBLEEM: JY GEBRUIK NIE ’N BASISLAAG NIE

Jy dink dalk ’n basislaag is onnodig, maar buiten dat dit verseker dat jou grimering heeldag vars lyk, help dit ook om sekere velkwessies aan te roer. As jy bv. ’n olierige vel het, absorbeer ’n basislaag oortollige olierigheid sodat jou onderlaag nie vinnig van jou vel afgly nie. En as jou vel droog is, kan ’n basislaag keer dat jou vel die onderlaag “drink” en jou onderlaag dan krakerig en onegalig lyk.

OPLOSSING:

Daar is ’n magdom basislae in room- en sproeiformules beskikbaar wat verskillende voordele vir jou vel inhou. Kies een wat by jou veltipe en behoeftes pas. Wend dit aan nadat jy jou vel goed bevog het en voor jou onderlaag.

WENK: As jy nie ’n afsonderlike basislaag wil koop nie, soek ’n vogroom met ’n ingeboude basislaag.

5. PROBLEEM: JY IS ONSEKER WATTER FORMULE OM TE KIES

Jou ideale onderlaagformule gaan afhang van jou veltipe en jou spesifieke voorkeure, soos of jy ligter of voller bedekking verkies. ’n Onderlaag met ’n mat afwerking help om olierigheid in toom te hou, terwyl ’n BB-room of mousse-formule meer bevogtigend is en dikwels ’n douerige afwerking gee.

OPLOSSING

As jy steeds onseker is, is jou beste keuse ’n formule met ’n ligte, effens loperige (liquid) tekstuur. Dié onderlae is die laaste paar jaar supergewild omdat dit maklik oor jou vel gly en die pigmente versprei egalig vir ’n foutlose onderlaagvoorkoms wat steeds natuurlik lyk, sê David. Dis boonop geskik vir die meeste veltipes en kan maklik opgebou word na gelang van die hoeveelheid bedek king wat jy verkies. Kyk na die woorde op die verpakking om jou ’n aanduiding te gee of dit meer geskik is vir ’n olierige of droë vel. 

BORSEL, SPONSIE OF VINGER?

BORSEL:

’n Groot, ronde onderlaagborsel is die maklikste om te gebruik en verseker elke keer ’n gladde, afgeronde voorkoms. Spuit ’n bietjie onderlaag op die bokant van jou hand, tik die borsel daarin en gebruik dan klein sirkelbewegings om jou vel met die onderlaag te “poleer” (buff).

VINGERS:

Gebruik jou vingers vir ’n dikker, romeriger formule. Die hitte van jou vingers sal help dat die formule makliker oor jou vel gly en lewer ’n meer natuurlike, deursigtige afwerking.

SPONSIE:

DIt werk goed om onderlaag mooi egalig oor jou vel te versprei, en om enige oortollige produk te verwyder nadat jy dit met ’n borsel of jou vingers aangewend het. Onthou om jou onderlaagsponsies elke twee maande te vervang omdat bakterieë maklik daarop opbou.