Soos wat ons ouer word, word min dele van ons gesig die tekens van velveroudering gespaar. Ongelukkig is dit veral rondom ons oë duidelik sigbaar. Fyn lyntjies verskyn en raak meer prominent én ons veltekstuur verander. Oogskadu en oogomlyner vertoon nie meer dieselfde nie en wend selfs moeiliker aan.

WEST HOLLYWOOD, CA - JANUARY 04: Nicole Kidman at
FOTO Getty Images / Gallo Images

Tog is daar is maniere waarop jy steeds ’n foutlose voorkoms wat heeldag hou, kan verkry.

Volg dié wenke:

1. Oogroom is belangrik

Die vel om ons oë is baie dun met die minimum oliekliere. Kies ’n oogroom wat peptiede bevat. Dit stimuleer kollageenproduksie, wat fyn lyntjies sagter kan laat vertoon. Wees ook op die uitkyk vir ’n oogroom wat jou vel hidreer, opplomp of versag om die tekstuur te verbeter.

2. Moenie van jou wenkbroue vergeet nie

Wenkbroue help om jou gesig te definieer en te raam. Jy hoef nie eens so baie grimering te dra as jou wenkbroue goed versorgd is nie! Besoek ’n skoonheidsterapeut wat jou wenkbroue professioneel kan vorm. Tuis kan jy jou wenkbroue effens inkleur om dit te beklemtoon. 

3. Wend ’n basislaag aan

Weens velveroudering verander die veltekstuur rondom jou oë, wat kan veroorsaak dat ooggrimering nie mooi in plek bly nie. ’n Basislaag help verseker dat jou ooggrimering deur die loop van die dag foutloos bly. Moenie van die dele onder die waterlyn en bo die ooglid vergeet nie.

4. Kies die regte oogskadu-afwerking

Vermy oogskadu’s met ’n glansafwerking. Dit is geneig om swaar te lyk en beklemtoon makliker fyn lyntjies en ’n verouderende veltekstuur. Probeer oogskadu’s met ’n satynafwerking, wat steeds daardie effense glans gee.

5. Wees versigtig met vloeibare oogomlyner

Aangesien die veltekstuur verander, is dit moeiliker om ’n foutlose, grafiese oogomlyner-voorkoms te skep. Die lyn kan maklik skeef of gebroke lyk, veral as jy jou vel tydens aanwending styfgetrek en dan weer laat los het. Gebruik eerder ’n sagte potlood en skakeer dit met oogskadu effe in vir die perfekte oogomlyner-voorkoms.

WEST HOLLYWOOD, CA - JANUARY 04: Nicole Kidman at
FOTO Getty Images / Gallo Images

Bronne: www.allure.com, www.totalbeauty.com