Die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss het so ’n paar maande gelede met haar eie YouTube-kanaal begin. Weekliks deel sy persoonlike staaltjies, raad en wenke aanlyn.

Dis hier waar sy so ’n maand gelede die nuus gedeel het dat sy weer swanger is. Dié week gee sy slim wenke om ’n foutlose, natuurlike grimeervoorkoms vir die dag te skep én hoe om dit vir die aand aan te pas met treffende rooi lippe en ’n subtiele katoog. Sy laat dit heel maklik lyk.

Hier is ’n paar oulike wenke:

1. Begin jou grimeerroetine met ’n basislaag sodat jou grimering mooi bly deur die dag. Moenie vergeet om die basislaag tot by jou nek in te vryf nie.

2. Jou vel moet steeds soos vel voel en lyk, so kies slim as dit by onderlaag kom. 

3. Was jou verbloemerborsel nadat jy dit gebruik het, anders versprei bakterieë wat puisies tot gevolg kan hê.

4. Gebruik ’n verligter wat ligter as jou onderlaag is en pas die konsep van die sg. "triangle of light" toe: Trek ’n onderstebo driehoek onder jou oë om donker sirkels te verbloem en jou oë te verhelder.  

5. Omlyn jou lippe net buite jou liplyn vir ’n voller lipvoorkoms.

6. Gebruik bruin oogskakerings vir die dag en voeg bietjie swart by vir die aand.

7. Vir ’n intense lipkleur wat hou: Plaas ’n stukkie toiletpapier bo-oor jou lippe, tik babapoeier bo-oor aan met ’n groot grimeerborsel, en wend dan weer lipstiffie aan.  

Rooi lippe en ’n katoog is tydloos. Die wonderlikste is dat dié twee grimeervoorkomste saam gedra kan word. Hou net die vlerk subtiel en die res van jou ooggrimering eenvoudig. 

Lippe wat smeul ...

“’n Soliede, helderrooi lipstiffie met ’n matafwerking is nou in die kol,” sê Marike Nel, SARIE Voorbladgesig 2013 en opleier vir die grimeerhuis MUD. ’n Lippotlood is noodsaaklik om jou liplyn te definieer en te keer dat jou lipstiffie in die lyntjies om jou mond “bloei”.

Kies een wat deursigtig is of in ’n kleur soortgelyk aan jou rooi lipstiffie. Omlyn jou lippe daarmee en wend dan jou lipstiffie aan. “Jy kan ook eers jou hele lip met ’n rooi lippotlood inkleur om jou rooi lipstiffie langer te laat hou en nóg helderder te laat lyk,” sê Marike.

Oë wat die praatwerk doen ...

’n Elegante katoog-voorkoms bly klassiek en duik jaar ná jaar op die modeloopplanke op. Die geheim van gevlerkte oogomlyner is dat die lyntjie dun in die binnehoeke van jou oë moet wees en geleidelik dikker loop na buite om die vorm van jou oog te beklemtoon.

’n Vloeibare oogomlyner met ’n dun, skerp punt werk die beste om ’n vlerkie te skep, sê Shirley Molatlhegi, vryskut-grimeerkunstenaar van Johannesburg wat onder meer met die produkte van die skoonheidshuis L'Oréal Paris werk.

“As jy haastig is of nie tyd het om vooraf te oefen nie, plak ’n stukkie kleeflint in lyn met jou onderste waterlyn aan die buitehoek van jou oog en gebruik dit as ’n gids om ’n perfekte lyntjie te trek.”

Probeer dié produkte:

1. Sensai Cellular Performance Cream Foundation (R1 330). By uitsoektakke van Edgars en Dis-Chem

2. Smashbox Step-by-Step Contour Kit (R715)

7. M.A.C Retro Matte Lipstick in Ruby Woo (R260)