Ons is almal soms skuldig hieraan. Die moegheid oorval ons en ons vertel onsself om “net een keer” met grimering in die bed te klim kan nie so sleg wees nie. 

Kyk net wat kan als gebeur as jy saans nie jou grimering verwyder nie …

1. Oogirritasie en -infeksie

Ooggrimering wat heelnag op jou vel bly, kan tot droogheid, rooiheid, irritasie en selfs ’n infeksie van die oë lei.          

2. Plooie

Ou grimering kan die skadelike uitwerking van vrye radikale vererger. Dit lei weer tot die afbreek van kollageen, wat jou vel vinniger kan laat verouder. 

3. Verstopte porieë en puisies

Jou vel is oortrek met porieë waardeur jou vel asemhaal, sweet en sebum vrystel. Grimering kan in dié porieë gaan lê en dit verstop, wat puisies kan veroorsaak.

4. Droë vel

’n Vel wat nie kan asemhaal nie, sal uitdroog en skilferagtig word. Dit lei weer tot verminderde elastisiteit, wat plooie duideliker kan maak.

5. Verstopte wimper-follikels

FOTO: Getty

Ooggrimering soos oogomlyner en maskara kan die klein wimper-follikels en oliekliere in jou ooglede verstop. Dit kan tot inflammasie lei en jou wimpers laat uitval.

6. Vaal, lewelose vel

Jou vel is jou liggaam se grootste orgaan. Ou grimering, dooie selle en olierigheid wat nie behoorlik afgespoel word nie, “versmoor” jou vel. Dit lei tot aknee en ’n lewelose, vaal voorkoms. 

7. Herstelproses versteur

Jou vel kry kans om te herstel en te vernuwe terwyl jy slaap. Sebum word vrygestel wat die vel hidreer en teen vrye radikale in die lug beskerm. Hierdie belangrike proses word versteur as jy met grimering slaap.

FOTO: Getty

Bronne: www.thelist.com, www.bustle.com