Die afgelope week van grendeltyd het die aktrise Donnalee Roberts en Kaapstadse grimeerkunstenaar en haarstilis Alicia Buckle op SARIE se digitale rusbank gekuier. Tydens die e-kuier het Donnalee staaltjies, raad en lewenslesse gedeel, sowel as wat dit beteken om die beste en sterkste weergawe van jouself te wees - ’n ware #StroomopVrou!

Daarna het Alicia wonderlike wenke en truuks vir ’n treffende grimeer- en haarvoorkoms gewys. Dit was duidelik dat dit wat jy reeds in jou grimeersakkie het, oorgenoeg is om op jou beste te lyk.

Die SARIE-skoonheidspan is gaande oor Alicia se slim truuk vir donker kringe onder jou oë. Sy het lipstiffie gebruik om daarvan ontslae te raak!

Hoe werk dit?

“As jy ’n puisie het wat baie rooi is en jy gaan na jou kleurwiel toe, dan is die beste ding wat jy kan doen om ’n groen bo-op die rooi te sit om die rooi te neutraliseer.” Alicia verduidelik dat dié konsep presies dieselfde werk vir donker kringe. 

Donker kringe is geneig om ’n effense donkerblou ondertoon te hê, so dit beteken dat ’n perske of oranje skakering die oplossing is, sê Alicia. “Dit sal die donker kinge neutraliseer en baie ligter maak en dan sit jy jou verbloemer bo-op.” 

Dít help om die donker kringe soveel makliker te verbloem nog voordat jy verbloemer aanwend. 

Watter skakering sal die beste vir jou werk?

’n Lipstiffie met ’n perske ondertoon: Dit werk goed as jou vel baie lig is.

’n Lipstiffie met ’n oranje ondertoon: Dit werk goed as jou vel donkerder of blas is.

Donker velkleure met ’n geel of olyfkleurige velondertoon (soos byvoorbeeld dié van Indiese vroue) kan ’n oranje skakering gebruik.

Watter afwerking moet jy kies?

Kies ’n lipproduk wat lekker droog is en wat jy met jou vingers effens kan smeer. Daarom werk ’n lipstiffie met ’n mat tekstuur goed. Moenie vergeet om die lipstiffie baie dun aan te wend nie. Gebruik jou vinger om met tikbewegings die lipstiffie oor die donker areas te smeer en wend dan daarna jou verbloemer aan.

WENK
As jy met fyn lyntjies of diep plooitjies om jou oë sukkel, kan jy ’n basislaag wat spesiaal vir die oogarea geformuleer is, aanwend. 

Probeer dié produkte:

MAC Powder Kiss Lipstick in Sweet, No Sugar (R260)

Rimmel Lasting Finish Lipstick in Unclothed (R110)

NYX Matte Lipstick in Sierra (R140)