Vra maar enige grimeerkenner, glans is in. As jou grimeervoorkoms die indruk skep dat dit lyk of jy natuurlik van binne gloei, lyk jou vel meteens gesonder én jonger.

Daarom is verligter jou antwoord vir ’n foutlose, glansende vel. Volgens ’n mediaverklaring van Catrice vang verligter natuurlike lig vas en help om jou gelaatstrekke mooi te definieer. 

FOTO Instagram / Catrice Cosmetics

Wend verligter op die gedeeltes van jou gesig waar lig natuurlik val, aan. Jou wangbene, neusbrug en “cupid's bow” is in die kol. 

Daar is ’n magdom verligters op winkelrakke beskikbaar met ’n groot verskeidenheid van skakerings, afwerkings en formules. 

Probeer die treffende voorkoms:

1. Wend eerstens ’n vloeibare- of roomverligter saam met jou onderlaag aan om natuurlike glans te skep.

2. Rond jou voorkoms met ’n poeierverligter af vir ekstra glans sodat jy behoorlik kan straal.

FOTO Instagram / Pat McGrath
ONTHOU
Moenie verligter op jou ken, voorkop of onder jou oë aanwend nie. Dit sal jou vel olierig laat lyk en nie jou gelaat komplementeer nie.

So hoe kies jy reg vir jou vel?

Poeier

Veltipe: Olierig, normaal of kombinasie

Voorkoms: Dit skep ’n treffende glinster wat jou gelaat glansend afrond. 

Verligters met ’n poeiertekstuur is perfek vir as jy met olierigheid sukkel. Poeier moet heel laaste aangewend word, so tik jou verligter na jou onderlaag aan. Jy kan ook die verligter op jou ooglede as oogskadu gebruik!

FOTO Instagram / Leonie Hanne

Probeer die produkte:

Catrice Luminice Highlight & Blush Glow Palette (R145)
Bobbi Brown Highlighting Powder (R830)
Wet n Wild Megaglo Highlighting Powder (R52)

Room

Veltipe: Droog, normaal of kombinasie

Voorkoms: Dit skep ’n meer subtiele en natuurlike grimeervoorkoms.

’n Romerige verligter kan voor- of na jou onderlaag aangewend word. Die tekstuur is baie maklik en lekker om mee te werk, so jy kan dit met jou hand of grimeerborsel aanwend. 

Probeer die produkte:

MAC Strobe Cream Hydratant Lumineux in Pinklite (R530)
Catrice Glowdoscope Highlighter Palette (R86)
Maybelline Master Strobing Stick Illuminating Highlighter (R182)

Vloeistof

Veltipe: Droog, normaal of kombinasie

Voorkoms: Dit skep ’n meer natuurlike gloed.

’n Vloeibare verligter is effens moeiliker om aan te wend, dit kan die onderlaag wat jy vooraf aangewend het, smeer of effens verwyder. Wend eerder jou vloeibare verligter voor jou onderlaag aan, die tegniek staan as “pre-highlighting” bekend of meng dit met jou onderlaag voor aanwending. Lees meer hier.

Probeer die produkte:

Benefit High Beam Highlighter Liquid (R395)
essence Highlight Drops Liquid Illuminator (R91)
Revlon Photoready Rose Glow Hydrating & Illuminating Primer (R235)
As jou vel sensitief is:
Volgens die bekende grimeerkunstenaar Alicia Buckle, is dit belangrik om ’n verligter te gebruik wat geen viskubbe bevat nie. ’n Sensitiewe vel sal sleg op viskubbe reageer. Kies ’n produk wat byvoorbeeld in die vorm van “crushed pearls” is en van hoër gehalte is.