FOTO Instagram / SARIE Tydskrif

'n Spesiale geleentheid is die ideale tyd om 'n bietjie te waag met jou grimeervoorkoms. Hoekom nie daai glinsterende oogskadu of helder lipkleur probeer nie? SARIE vier 70 jaar van inspirasie en vanjaar kan lesers saam aan ons verjaardagtafel kom sit. 

Ons vier inspirasie-etes skop amptelik dié Woensdag af. Hier is inspirasie vir jóú partytjievoorkoms ...

1. Smaraggroen oë

FOTO Instagram / Lucy Hale

Kies drie groen skakerings: 'n donker skakering, 'n medium skakering, en 'n ligte, glinterende een. Wend die medium skakering oor jou hele ooglid én onder jou onderste wimperlyn aan - skakeer dit van die buitehoek van jou oog na binnetoe in. Wend die donker skakering net onder jou oogbank aan om jou oogvorm te definieer. Die ligste, glinsterende skakering kom direk op die bal van jou ooglid asook in die binnehoek van jou oog. Rond die voorkoms met 'n paar lae maskara, 'n neutrale lipkleur en ligte verbronser af.

2. Katoog met rooi lippe

FOTO Instagram / Selena Gomez

As jy nie van glans hou nie, is 'n tydlose katoog in die kol. Die geheim is dat die lyntjie dun in die binnehoek van jou oog moet begin en geleidelik dikker loop na buite om die vorm van jou oog te beklemtoon. Gebruik 'n vloeibare oogomlyner om die perfekte "vlerkie" te trek. Moenie bang wees om rooi lipstiffie met 'n matafwerking by dié voorkoms te dra nie.

3. Neutrale skakerings met glans

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Gebruik skakerings van goud, brons en bruin om 'n glansende, monochromatiese voorkoms te skep. Wend 'n bruin of brons skakering met glansende pigment oor jou hele ooglid aan. Wend dieselfde oogskadu net onder jou onderste wimpers aan. Definieer jou wangbene met verbronser en verligter. Kies 'n treffende neutrale skakering wat jou lippe subtiel beklemtoon.

WENK
Wend vebronser onder jou wangbene aan en verligter bo-op jou wangbene.

Bron: www.allure.com