Die Amerikaanse popsangeres Taylor Swift het gisteraand by die American Music Awards (AMA’s) die koppe laat draai. Taylor het in ’n silwer rok en stewels verskyn, maar dit was veral haar ikoniese katoog-voorkoms wat ons aandag getrek het. 

FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Getty Images / Gallo Images

Taylor se oë het treffend gelyk met ’n effens gesmeerde katoog-“vlerkie” wat met swart oogomlyner aangewend is. Die voorkoms is met rokerige donker oogskadu bo en onder die katoog-detail afgerond. Haar gelaat was stralend en foutloos en haar lippe ’n neutrale pienk skakering. 

FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Getty Images / Gallo Images

Hoe kry jy die katoog-voorkoms? In die grimeerwêreld staan die tegniek glo bekend as ’n besonder moeilike een om baas te raak. Volgens Suzanne Potgieter, grimeerkunstenaar van Stellenbosch, verg dit oefening, geduld en ’n bietjie ekstra tyd. Sy deel 5 wenke om die katoog-voorkoms te kry.

FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Getty Images / Gallo Images

Kry Taylor Swift se katoog-voorkoms:

1) Kies eerstens die regte oogomlyner. Hoe dunner die punt, hoe beter. Jy gaan sukkel om die skerp lyn van die katoog met ’n gewone oogpotlood te skep. As jy eers die regte formule het, kan jy begin oefen. Suzanne verkies ’n vloeibare swart oogomlyner. 

2) Moenie jou oog toemaak tydens aanwending nie. Kyk af in ’n spieël wat jy voor jou geplaas het, sit in ’n gemaklike posisie en stut jou elmboog op ’n stewige oppervlak vir meer beheer.

3) Besluit hoe lank jy jou “vlerkie” wil hê. Hoe langer, hoe meer dramaties. Begin eerder met ’n korter een en verleng dit soos wat jy meer vertroud raak met die tegniek. Maak die vlerkie en werk dan verder van die buitehoek van jou oog na die middel van jou wimperlyn. Voltooi die lyn van daar af na die binnehoek van die oog. Moenie probeer om met een streep die buite- en binnehoek te verbind nie. Klein strepies in drie stappe werk beter.

4) Om jou katoog mooi te beklemtoon, wend minstens twee lae maskara op jou wimpers aan.

5) Indien jy enige foutjies gemaak het, of as een lyntjie dikker of skeef is, gebruik ’n oorstokkie gedoop in grimeerverwyderaar om dit te verwyder. Jy kan ook ’n tikkie verbloemer en ’n kwassie gebruik om jou lyne skerper en meer egalig te maak.

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Probeer dié produkte:

1. M.A.C Pro Longwear Fluidline in Blacktrack (R290)

2. Chanel Longwear Intense Cream Eyeliner (R560)

3. Smashbox Jet Set Waterproof Eyeliner (R310)

4. Smashbox Precise Brow and Liner Brush (R405)

5. WBeauty Eyeliner Brush (R90). By Woolworths

6. Clinique Eye Definer Brush (R285)

7. Revlon Colorstay Skinny Liquid Liner (R199)

8. Revlon Colorstay Exactify Liquid Liner (R199)

Bronne: www.eonline.com