Bruide droom van ’n sprokiesdag, waar alles perfek verloop en die belangrikste van alles, dat jy op jou heel beste lyk. Tog gebeur daar onverwagse dinge op die dag wat tot stres en spanning lei.

Volg dié raad om te verseker dat jou grimeervoorkoms nie ook tot onverwagse stres op dié groot dag bydra nie.

Blosser is belangriker as wat jy dink

Vogue berig aanlyn dat wanneer jy wit of ligte kleure dra verloor jy baie van die natuurlike warmte van jou vel. Dra daarom juis ekstra blosser om ’n gesonde, gloeiende gelaat te skep sodat jy nie afgemat en uitgewas lyk nie.

FOTO Instagram / Skoonlief Beauty

’n Basislaag is ’n moet!

Dis belangrik om ’n basislaag eerstens aan te wend. Vir ’n olierige vel help dit om olierigheid te tem en vir ’n droë vel help dit om jou gelaat glad en eweredig te laat lyk.

Stadig met die onderlaag …

Net omdat dit jou troudag is, hoef jy nie lae en lae ekstra onderlaag te dra nie. Dra dieselfde hoeveelheid as wat jy gewoonlik dra en moenie van die area onder jou oë vergeet nie. Dit kan gou afgemat lyk.

FOTO Instagram / Skoonlief Beauty

Dra die regte maskara

Dra ’n waterbestande maskara sodat jy heel aand op jou beste kan lyk, selfs wanneer die trane begin rol.

Eenvoud 

Jou troudag is nie die geleentheid om ’n splinternuwe voorkoms te probeer nie. Jy kan beslis iets nuuts probeer, maar dis steeds belangrik om soos die beste weergawe van jouself te lyk. Dié weergawe wat jou geliefdes reeds ken, net nóg beter!

FOTO Instagram / Jenni Elizabeth

Bronne: www.vogue.co.uk, www.cosmopolitan.com