Alles of niks. Dís die twee boksies waarin somer se lipstiffietrends netjies pas. Rooi word in oordaad op jou lippe gebruik, óf jou lippe is neutraal en natuurlik. Dít beteken jy het die nuwejaar net twee staatmaker-lipstiffies in jou skoonheidsakkie nodig.

Sonsondergang-rooi

Elke vrou behoort ’n rooi lipstiffie in haar grimeersakkie te hê. Dié seisoen se rooi lipstiffie het ’n effense oranje ondertoon en laat jou jonk en vars lyk.

Dra dit só:

’n Rooi lipstiffie met ’n mat-afwerking bly ’n staatmaker omdat dit lank op jou lippe hou en nie maklik smeer nie. Speelse glansteksture is ook in die kol. Hou die res van jou grimering eenvoudig. Net ’n dun lyntjie vloeibare oogomlyner en maskara is nodig.

Sandpienk

’n Natuurlike lipkleur gaan nooit uit die mode nie. Die somer is neutrale skakerings met ’n vuilpienk ondertoon gewild.

Dra dit só:

Sagte rokerige oë met aardse oogskadu-skakerings is die perfekte pasmaat vir jou neutrale lippe. Gebruik daarmee saam ’n tikkie verbronser op jou wange vir ’n gelaat met ’n songlans.

Still dreaming about last night ??

A post shared by Lea Michele (@leamichele) on

Skep jou beste lippe-voorkoms:

1. Lipstiffie + lipomlyner = langdurige kleur

Kleur eers jou lippe heeltemal in met ’n lipomlyner in dieselfde kleur as jou lipstiffie voordat jy die lipstiffie aanwend. Die kleur sal dan langer hou.

2. Lipstiffie + lipglans = gevlekte lippe

Lippe wat lyk asof dit net effens met kleur gevlek is, lyk natuurlik en vroulik. Dis boonop makliker om op te knap. Tik ’n rooi of sandpienk lipstiffie liggies met jou ringvinger op jou lippe. Wend dan ’n deursigtige lipglans of lipsalf aan jou bo-lip en pers jou lippe saam om die kleur te versprei.

3. Lipstiffie + verbloemer = ’n voller mond

Tik verbloemer in die hoeke van jou mond voordat jy lipstiffie aanwend. Dit vul die “holtes” in en laat jou mondgedeelte voller en jonger lyk.

Probeer die lipstiffies:

Rooi

1. Lancôme L'Absolu Gloss Cream in Caprice (R370)

2. NYX Professional Makeup Extra Creamy Round Lipstick in Eros (R100)

By Clicks

3. Estée Lauder Pure Color Love Lipstick in Hot Streak (R320)

Neutraal

1. Maybelline Vivid Hot Lacquer in Tease (R115)

2. Elizabeth Arden Plush Up Lip Gelato in Natural Blush (R295)

3. Essence Liquid Lipstick in Almost Real (R55)

By Clicks