Mat of glans? Kies die regte grimeerformules vir ’n eksieperfeksie voorkoms.

Kies die regte tekstuur vir jou vel

Die slimste grimeerbesluit wat jy kan neem, is om die regte onderlaag te kies. Kry jy die tekstuur reg, lyk jou vel natuurlik en foutloos.

Mat of glans

’n Matonderlaag is gewild onder dié van ons wat hou van voller bedekking en sommer ook imperfeksies wil wegsteek. En die nuutste formules lyk glad nie dik of aangeplak nie. Dis ook die ideale keuse as jy ’n olierige vel het omdat dié onderlae oortollige olie absorbeer en blinkheid laat verdwyn.

’n Glansonderlaag is ’n staatmaker as jy van ’n natuurlike gelaat hou. Dit sorg vir ’n veerligte, douerige (dewy), byna deursigtige afwerking en is perfek as jy met ’n droë vel sukkel omdat dit ook jou vel bevog. Dié tipe onderlaag gaan nie enige vlekke of knoppies wegsteek soos ’n matonderlaag nie, maar jy kan enige “foute” met ’n bietjie verbloemer verdoesel voordat jy jou glansonderlaag aanwend.

Kies die regte tekstuur vir jou wange

Blosser gee in ‘’n kits lewe aan ‘’n vaal vel. As jy onseker is oor watter kleur by jou gaan pas, kies pienk. Dit werk by die meeste velkleure en ouderdomme. Maar wees meer oordeelkundig oor die formule wat jy koop, want dis in die tekstuur van ‘’n blosser waar die betowering lê.

Feeling hot, looking hotter ?? with #MACMirageNoir #Regram @macmiraclemile

A post shared by M·A·C Cosmetics (@maccosmetics) on

Mat of glans

’n Roomblosser gee intense kleur aan jou wange, so gebruik min en skakeer dit goed met jou vingers in. Dis ideaal vir ’n droë vel en gee ’n mooi douerige afwerking.

Kies ’n poeierblosser as jy ouer is. Dit gee subtiele kleur aan jou wange en is heelwat makliker om aan te wend. Jy skakeer dit bloot met ’n blosserborsel op die appels van jou wange.

Kies die regte tekstuur vir jou oë

Die regte teksture vir jou oë maak ’n groot verskil.

Mat of glans

Neutrale kleure werk veral goed in ’n mattekstuur. Kies ook skakerings met dié tekstuur vir die dag of as jy ’n rokerige voorkoms (smokey eye) wil skep.

In die aand lyk ’n tikkie blink mooi. Omdat dit lig weg van jou vel weerkaats, laat dit jou oë groter lyk. Kleure soos donkerpers, blou of groen kom tot hul reg in ’n glansende skakering. ’n Bietjie verligter (highlighter) in die binnehoeke van jou oë laat dit vars en helder lyk.

 Kies die regte tekstuur vir jou lippe

Vroue is oor die algemeen meer aangetrokke tot blink of romerige lipprodukte, maar moenie dié met ’n matafwerking onderskat nie.

Mat of glans

Dié met ’n matafwerking het die laaste paar jaar ’n metamorfose ondergaan: waar dit in die verlede geneig was om jou lippe uit te droog, is dit nou vol bevogtigende bestanddele. As jy van donker of helder lipkleure soos purper, oranje of rooi hou, is ’n matlipstiffie die antwoord. Dié kleure sal dieper en meer intens lyk in ’n matafwerking en boonop langer aanbly.

Verkies jy eerder ligter kleure soos neutrale skakerings (nudes) en ligpienke? Dan werk glans- of satynlipstiffies beter. Die glans gee lewe aan dié kleure én laat ook dunner lippe voller lyk.

 Blink hiér, nie dáár

Ja... vir jou wange

’n Bietjie verligter op die bokant van jou wangbene laat jou wange sterker vertoon en jou gesig meer gedefinieerd lyk. Omdat dit jou vel laat straal, lyk jy ook sommer jonger.

Nee... vir jou T-sone

Tik altyd ’n bietjie poeier aan jou T-sone nadat jy grimeer het. Dié deel is geneig om olieriger as die res van jou gesig te wees en deur die dag te begin blink.

Probeer dié produkte: