Bob-haarstyle is nou gewild, die korter styl verg min moeite en is baie veelsydig. Sjiek en reguit, romanties met strandgolwe of prettig met ’n treffende haarbykomstigheid, dié haarstyl lyk mooi by almal.

FOTO Instagram / Leandie du Randt
FOTO Instagram / Antoine Cierplikowski

Die bob kraai weer koning na maande van inperking en haarsalonne wat geforseerd was om hul dienste, wat nie as noodsaaklik bestempel is nie, te staak. As gevolg van die grendeltyd het vrouens se hare uit styl uit gegroei en die lengte was dalk langer as wat hul dit gewoonlik sou verkies.

Die heropening van haarsalonne het baie vroue opgewonde gemaak om waarlik iets nuuts óf iets drasties te probeer. Die bob is die perfekte antwoord, want nie net is dit ’n lekker en moderne kort styl nie, maar dit laat steeds speling toe om nie heeltemal jou langer hare te groet nie. Dié lengte beperk jou beslis nie.

Gewilde variasies van die tradisionele bob soos ’n langer bob (of lob), die Franse bob of ’n stompgesnyde bob bewys dit. 

Aktrise Lucy Hale dra haar hare in ’n lob. FOTO Instagram / Lucy Hale
’n Franse bob. FOTO Instagram / May Go Vintage
’n Stompgesnyde bob. FOTO Instagram / Benjamin Ryan Hair

Aktrise Kara du Toit stem saam. “Dit hang nie in my gesig nie, dit is maklik hanteerbaar en dis stylvol. Dis in die mode tans, dit raam my gesig mooi. Vir my is die sleutelwoord dat dit moeiteloos moet wees, want ek wil nie baie tyd aan my hare spandeer nie.” 

FOTO Instagram / Kara du Toit

Ons het gaan ondersoek instel oor dié veelsydige styl en by so paar bekendes gaan inloer oor hul topwenke.

Bekendes en kenners oor hul bob-haarstyle:

Marí Conradie

Die bekende grimeerkunstenaar en stileerder Marí Conradie, oftewel Mooistemooi, dra haar hare in ’n treffende bob-haarstyl. Ons is gaande oor hoe sy haar hare stileer en nie bang is om opwindende kinkels te probeer nie.

“Dis ’n lekker trendy snit en dis maklik om dit vinnig na iets te laat lyk. Ek kan dit vinnig krul en dit lyk ook baie mooi as jy dit in ’n sleek low bun of bokstert vasmaak.” 

FOTO Chrisél Mouton Photography

 

Marí se wenke:

* Droë sjampoe en haarsproei is jou beste vriend. Dit gee lekker volume en tekstuur.

* Vra vir jou haarkapper om jou hare in ’n blunt cut te sny, nie in lae nie. As jy fyner hare het, dan lyk jou hare baie dikker.

* Korter hare beteken nie dat jy nie haarbykomstighede kan dra nie. Jy kan lekker knippies in jou hare sit, jy kan nogsteeds jou hare vasmaak en ’n serp om dit bind, haarbande lyk óók amazing by kort hare.

Marí wys stap-vir-stap hoe om jou hare in meermin-krulle te stileer:

Marí sê dat jy nie bang hoef te wees om korter hare te dra nie. “Change is good! Dit is baie liberating vir ’n vrou om daai besluit te neem en jou hare groei terug!”

Kara du Toit

Ons het dié pragtige rooikop vroeër vanjaar as Dr. Maya Gosslin in die kykNET-sepie se Binnelanders leer ken. Kara is ’n kreatiewe siel en ’n kenner op verskeie terreine, te danke aan die ondervinding wat sy buite die vermaakbedryf opgedoen het.

Daarom is dit nie vreemd dat sy goed haar huiswerk oor haar eie haartipe gedoen het nie. Kara het krulhare en weet wat die beste vir haar haartipe werk. Dis belangrik,  veral omdat sy haar hare in ’n korter styl dra. 

“Maak jouself wys rondom hoe jou hare werk en dan kan jy kyk watter tipe produkte die beste vir jóú hare werk. My krulhare is maar eintlik my baas, so ek word wakker en ek sien waarvoor hulle lus is die dag en then I go with a flow. Mens moet maar ’n tipe aanpasbaarheid hê as dit by krulhare kom, want krulhare is maar emosioneel en wispelturig en onvoorspelbaar.” 

Eksperimenteer met ’n styl, wees dapper, kyk of dit vir jou werk, sê Kara. “Moenie bly wonder of ’n styl vir jou gaan werk nie, eksperimenteer daarmee, take a risk! Wees ’n waaghals.”

FOTO Instagram / Kara du Toit
FOTO Instagram / Kara du Toit

Lauren Joseph

Met haar pragtige donker hare ken ons haar as Zoë in kykNET se Suidooster. Op sosiale media deel sy die mooiste haarinspirasie, wat wys dat daar beslis iets omtrent korter haarstyle is.

FOTO Instagram / Lauren Joseph

“Ek was nog altyd lief vir korter hare. Elke keer as ek my hare laat sny, skep dit ’n gevoel van bevryding.” Vir Lauren is dit ’n slim en praktiese haarstyl wat minimale hittestilering verg.

“Dit maak my vies dat baie vroue steeds bang is om van hul langer hare afskeid te neem. Ek is bewus daarvan dat langer hare en die samelewing se idee van ware skoonheid aan mekaar gekoppel word. Ek het self vriendinne wie se kêrels of pa’s hulle al só beïnvloed het om nie hulle lang hare korter te sny nie.” Dit plaas onnodige druk op vrouens en ’n vrees om korter haarstyle te omarm.

Lauren Joseph FOTO Dale Sylvester van Deesquared Photography

Waar kom dit vandaan?

Sowat ’n 100 jaar gelede was lang, natuurlike lokke beskou as die ewebeeld van vroulikheid en skoonheid. Dit was skandalig as vroue dit eers gewaag het om hul hare in ’n korter haarstyl te wil dra. 

Net soos wat korter rompe bo die knie, rook en drink as taboe en onvanpas vir vrouens beskou was, was ’n korter, bob-haarstyl as ’n daad van rebelsheid en opstand gesien. In die alewige stryd vir vryheid en gelyke regte as mans, het talle dapper vrouens juis dít gedoen. Dit was ’n visuele manier hoe hulle hul vryheid kon vier sonder om hul vroulikheid in die proses prys te gee.

En dit het bewys dat vroue kan maak nes hulle wil, hulle hoef nie toe te laat dat mans vir hulle voorskryf wat reg en verkeerd is nie.

Die evolusie van die bob

Die Poolse haarkapper Antoine Cierplikowski, wat die eerste bob-haarstyl gesny het, was deur die heilige Joan of Arc geïnspireer. En so was ’n korter styl, wat net onder die kakebeen gesny is, gebore. Revolusie vir vrouwees!

In 1915 het ’n bekende Amerikaanse danser en stylikoon, Irene Castle, haar hare kort gesny. Dit was aanvanklik ’n praktiese besluit, omdat sy ’n operasie moes ondergaan en gedink het dat korter hare haar lewe sou vergemaklik tydens haar herstelproses. Irene het haar korter hare met behulp van ’n tulband vir die publiek weggesteek. Haar vriende het haar aangemoedig om dit nie te doen nie en haar hare met trots te dra. Dié gewaagde haarstyl het gou gewild onder haar aanhangers geraak en as die Castle Bob bekend gestaan.

Dié kontroversiële haarstyl was juis die inspirasie vir F. Scott Fitzgerald se kortverhaal getitled “Bernice bobs her hair”.

Tydens die roaring twenties het korter haarstyle vlam gevat. Dit was ’n viering van hoe vroue se rol in die samelewing stelselmatig ten goede begin verander het. Haarkappers het geweier om klante se hare in ’n bob-haarstyl te sny en was nie opgelei om dié taak met vlieënde vaandels te slaag nie. Vroue het by barbiers se deure gaan aanklop wat reeds die sny van korter haarstyle vervolmaak het. 

Boonop het die bobgier ’n ekonomiese inspuiting tot gevolg gehad. Dié gewilde haarstyl het gereelde besoeke aan die haarsalon vereis om te verseker dat die styl nie uitgroei en stylloos lyk nie.

Vinnig was daar verskeie bobstyle om van te kies. Dink maar aan die bekende vingergolf, die Marcel Bob of die Shingle Bob.

FOTO Instagram / Pin Curls Vintage Services

Bronne: www.historydaily.org, www.smithsonianmag.com