Ongeag die instelling na vlak 3 van inperking, werk baie van ons nog van die huis af. In hierdie vreemde tyd het jy dalk goed begin en soggens ’n punt daarvan gemaak om jou hare mooi te stileer en netjies aan te trek. 

Tog het baie van ons so effens begin moed opgee en het ons voorkoms daaronder begin ly. As jy moeite met jouself doen, sal jy beter oor jouself voel. Dít spoel oor in hoe produktief jy is en alles anders wat jy deur die loop van die dag aanpak.

So groet maar vir eers daai rowwe bolla, want daar is wel ander min-moeite haarstyle wat jou op jou beste gaan laat lyk en voel.

Op sosiale media steel verskillende vlegsel-haarstyle nou die kollig.

Kyk net hier:

1. Boheemse vlegsels sonder rekkies

Probeer dié haarstyl tussen haarwasdae. Die vlegsels hou beter as jou hare nie silwerskoon is nie. Boonop het jy nie eens rekkies nodig nie!

2. Lae bolla met vlegsel detail

Vleg ’n gedeelte van jou hare by jou haarlyn en maak dit met ’n deurskynende haarrekkie vas. Kam die res van jou hare netjies in ’n lae bolla en maak dit met so paar haarknippies vas. Maak seker dat die vlegsel saam met die bolla vasgemaak word. Onthou om die vlegsel effens los te trek sodat die detail van die vlegsel meer sigbaar is.

FOTO Instagram / Sarah Potempa

3. Eenvoudige franse vlegsel met haarbykomstighede

Daar is goeie rede hoekom die einste haarstyl ’n staatmaker op skool was. Dis netjies en hou jou hare uit jou gesig uit. Kikker dit wel op deur moderne haarbykomstighede by te voeg.

FOTO Instagram / Leonie Hanne