’n Werkonderhoud kan senutergend wees. In ’n kort tydjie moet jy ’n goeie indruk maak op ’n onderhoudvoerder wat moontlik jou toekomstige baas gaan wees. Nie net moet jy voorbereid wees op alle moontlike vrae nie, jy moet ook spesiale moeite met jou voorkoms doen en seker maak jy lyk professioneel.

Wat jou voorkoms betref, speel jou haarstyl net so ’n belangrike rol soos jou klere en grimering. Dit moet jou klere en grimering komplementeer en nie oorheers nie. As jy byvoorbeeld ’n helderkleurige lipstiffie of baadjie dra, hou dan eerder jou haarstyl eenvoudig.

Hier is ’n paar haarstyl-idees:

1. Gestileerde poniestert

FOTO: Getty

’n Poniestert kan formeel gestileer word vir ’n werkonderhoud. Gebruik ’n haarsproei om korter hare netjies agter jou kop te stileer. Neem ’n klein stukkie hare om die haarrekkie te verbloem en steek dit met ’n haarknippie onder die poniestert vas. 

2. Los, golwende krulle

FOTO: Getty

Golwende krulle is gepas vir ’n minder formele werkomgewing. Verdeel jou hare in kleiner gedeeltes en krul dit met ’n krultang. Spuit dan ’n bietjie haarsproei in jou hare en skud die krulle effens los sodat dit nie te styf lyk nie.

3. Agter jou oor

Tydens ’n onderhoud wil jy nie jou bekommer oor hare wat in jou gesig val nie. Dié styl is ’n goeie middeweg tussen los hare en ’n op-styl. Verdeel jou hare in ’n middel- of kantpaadjie. Neem die een gedeelte en steek dit met ’n haarknippie agter jou oor vas. 

4. Hoë, netjiese bolla

FOTO: Getty

Dié haarstyl skep onmiddellik ’n netjiese, afgeronde indruk. Dit is ’n maklike stileer-opsie en neem al jou hare uit jou gesig uit. Maak jou hare in ’n hoë poniestert vas en stileer dit met ’n bollarekkie in ’n netjiese bolla. Steek die hare met ’n paar haarknippies vas.

5. Lank en glad

Dit is aanvaarbaar om lang hare los te dra vir ’n werkonderhoud. Onthou net om nie met jou hare te vroetel tydens die onderhoud nie! Gebruik ’n haaryster om ’n gladde voorkoms te skep.