Die Namibiese supermodel Behati Prinsloo spog met ’n nuwe haarkleur. Haar hare is nou pienk! Die rooskleurige skakering is meer prominent op haar haarpunte met haar natuurlike haarkleur wat steeds sigbaar by haar haarwortels is.

VOOR:

FOTO Instagram / Behati Prinsloo

NA:

FOTO Instagram / Behati Prinsloo

Dra dit só:

Dra jou pienk hare dramaties of subtiel: Kleur jou hele kop of net die punte vir ’n ombree-effek. Jy kan selfs net pienk ligstrepe laat insit vir ’n sagte balayage-voorkoms.

Volgens Boyd Meilhon, meesterstilis by die haarsalon Karo Hair in Johannesburg, is die idee dat jou hare net liggies getint word en dat die kleur ná ’n paar wasse heeltemal uitwas.

Behati is nie die enigste bekende wat haar hare onlangs pienk gekleur het nie. Hailey Bieber het haar blonde hare met ’n ligpienk skakering opgekikker.

FOTO Instagram / Elle USA

Versorging:

Hoewel die kleur veronderstel is om uit te was, wil jy nie hê bv. sonblootsteling moet jou pienk lokke voortydig dof laat lyk nie. Volgens Danica Crous van Moroccanoil behoort jy dié produkte deel van jou roetine te maak:

FOTO Instagram / Scar

1. Belê in ’n sjampoe en opknapper wat spesifiek ontwikkel is om gekleurde hare te onderhou. Dit keer dat jou haarkutikels oopgaan en vog en kleur daaruit “lek”.

2. Blootstelling aan die son se UV-strale kan jou haarkleur laat vervaag omdat dit die bindings tussen die keratien-molekules in jou haarskag breek en jou haarkleur oksideer. Gebruik daagliks ’n haarproduk wat UV-filters bevat (soos ’n hittebeskermer).

3. Wend voor jy gaan swem ’n inbly-opknapper of masker aan. Dit vorm ’n beskermende lagie oor jou hare en help keer dat jou kleur vinnig vervaag.