Aktrise en Skoonma Clothing-eienaar Leandie du Randt het op Instagram wonderlike raad vir blondines gedeel. Dié blondekop sê tamatiesous help om die groen skynsel weens chloor in swembadwater en pers skynsel as gevolg van die gebruik van sekere sjampoes uit jou ligte hare te verwyder.

FOTO Leandie du Randt

Dís iets waarmee blondines baie sukkel. Leandie vertel as kind het haar ma altyd die tamatiesous nader getrek as haar hare ’n groen skynsel begin kry het. “Ek het te veel pret in die publieke swembaddens gehad,” sê Leandie.

Leandie het raad op Instagram gedeel. FOTO Instagram / Leandie du Randt

Hoekom werk dit?

Wanneer jou hare ’n groen of pers skynsel het, moet jy dit neutraliseer om die natuurlike skakering van jou hare te help herstel. Tamatiesous werk aangesien rooi en groen komplementêre kleure is. Dit sal nie jou hare rooi kleur nie.

Die asyn binne tamatiesous help ook om die chemiese reaksie wat die verkleuring veroorsaak, teen te werk.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Volg dié stappe:

1. Spoel jou hare met water af en vryf dit effe droog.

2. Wend tamatiesous op jou hare aan, fokus op die gedeeltes wat verkleur het.

3. Spoel die tamatiesous ná so 20 tot 30 minute af.

4. Was jou hare met ’n goeie sjampoe en opknapper.

Wenk:

Herhaal dié proses totdat die verkleuring nie meer sigbaar is nie.

Vermy só die verkleuring van jou hare:

1. Spoel jou hare af voordat jy swem.

2. Spoel jou hare af sodra jy uit die swembad klim.

3. Dra ’n swemkeppie.

4. Wend opknapper op jou hare aan, dit vorm ’n beskermende lagie.

Bronne: www.hairromance.com