Ons eie Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters is vir ’n oomblik terug in Suid-Afrika! So tussendeur haar dol program het sy by ’n mediageleentheid van die skoonheidsprodukverspreider Glamit ’n paar van haar beste haargeheime verklap.

“My hare is ’n belangrike deel van wie ek is en as my hare gesond is en mooi lyk, voel ek selfversekerd,” het die 22-jarige skoonheid in ’n mediaverklaring ná die geleentheid gesê.

FOTO: Glamit

Is jy nuuskierig om te weet hoe Demi-Leigh haar lang karamelkleurige lokke gesond en glansend hou?

Hiér is haar top-haargeheime:

#1 Sy was haar hare elke tweede of derde dag met ’n sjampoe en opknapper wat teeboomolie bevat. Dit help om haar haarwortels en kopvel goed skoon te maak deur olierigheid en stileringsprodukte behoorlik te verwyder, sonder om die natuurlike oliebalans op haar kopvel te versteur.

#2 Demi-Leigh vertel dat sy báie hare het wat dikwels swaar voel. Dis daarom moeilik om volume in haar hare te skep. Hiervoor gebruik sy ’n droë sjampoe. Dit gee jou haarwortels onmiddellik woema en hou jou hare vars tussen wasdae.

#3 “Wanneer ek reis hou ek daarvan om een toestel met verskeie gebruike saam te vat,” het Demi-Leigh in die verklaring gesê. ’n Haaryster is perfek omdat jy jou hare kan glad stryk óf sagte golwe skep.

#4 Voordat sy haar hare stileer, wend sy ’n haarolie aan wat onder meer roosbottelolie (rose hip) bevat. Dit gee glans en voorkom kroeserigheid. Haar hare is dan makliker hanteerbaar.

#5 Demi-Leigh behandel sowat twee keer per maand haar hare met ’n voedende haarmasker. Sy hou die masker sommer vir die hele dag in vir ’n behoorlike voginspuiting.

Het jy geweet?

Demi-Leigh spog met een van die somer se warmste haarkleure: karamel. Jy kan ook! Karamel skakerings in jou hare pas letterlik by alle vel- en haarkleure en laat jou boonop jare jonger lyk. Dra dit as een skakering óf as ligstrepies in swart, bruin of blonde hare. Lees hiér meer.


Probeer dié produkte vir mooi hare soos Demi-Leigh s'n:

1. Noughty Care Taker Scalp Soothing Shampoo en Conditioner (R150 elk)

Hawermout-ekstrak in dié natuurlike haarprodukreeks kalmeer ’n sensitiewe kopvel. By Clicks

2. CHI Miss Universe Style Illuminate Dry Shampoo (R350)

Een van Demi-Leigh se gunsteling-produkte! Beskikbaar aanlyn by www.glamit.co.za

3. ghd V Gold Nocturne Collection Styler (R2 499)

Vir ’n beperkte tyd is die reeks haarysters en haardroërs in die mooiste pers skakerings beskikbaar. By uitsoeksalonne

4. Inoar Absolut Daymoist Mask (R450)

Dié haarmasker voed hare intens en tem kroeserigheid. By uitsoeksalonne of aanlyn by www.inoar.co.za

5. Hask Greek Yogurt Repairing Deep Conditioner with Blueberry & Acai (R70)

Proteïenryke Griekse jogurt word met die antioksidante van bessies gekombineer om hare te versterk en herstel in dié interessante haarmasker. By Clicks