Dis die mees veelsydige haarbykomstigheid: Die kuif. Dra dit vol en stompgesny, lank en skuins of versnipperd, maar daar is beslis ’n styl wat by jou sal pas. Jy kan dit selfs wegsteek as jou hare die dag nie wil saamwerk nie! Met ’n kuif kan jy jou voorkoms in ’n kits heeltemal verander.

SARIE se skoonheidsredakteur en -skrywer dra albei dié gewilde haarstyl. Die span het die volgende wenke saamgestel oor alles wat jy in ag moet neem as jy ’n kuif wil sny.

1. Neem jou haartipe in ag

Jou haartipe het ’n groot invloed op watter kuif jy kan dra. ’n Vol, stompgesnyde kuif werk beter by dik hare, en vir dun, fyn hare is ’n langer, skuins kuif weer beter.

2. Moenie self jou kuif sny nie

Die kans dat jy dit te kort of skeef gaan sny, is baie groot. Besoek eerder jou haarsalon vir dié groot verandering.

3. Jou kuif gaan ’n ruk neem om reg te lyk

Jou hare groei in ’n sekere rigting, wat die voorkoms van jou kuif kan beïnvloed. As jy byvoorbeeld jou hare in ’n middelpaadjie dra, gaan jou kuif nie dadelik vorentoe val nie. Gee jou hare kans om daaraan gewoond te raak!

WENK
Blaas jou hare uit vir die perfekte voorkoms.

4. ’n Kuif verg ekstra moeite

Ongeag jou haartipe of watter soort kuif jy dra, dit verg ekstra moeite en tyd. Jou kuif moet gestileer word vir die perfekte voorkoms en jy moet konstant seker maak dat dit die regte lengte is. Jy gaan vinnig agterkom hoe vinnig jou hare groei! As moeite met jou hare nie vir jou is nie, moet jy dalk dié verandering heroorweeg.

5. Gebruik droë sjampoe

’n Kuif laat jou voorkop makliker sweet. Jy is ook geneig om meer aan jou hare te vat om seker te maak jou kuif is reg, en só lyk jou kuif vinniger vuil. Droë sjampoe sal jou kuif in ’n kits weer skoon laat lyk.

Wil jy ook ’n kuif laat sny? Daar is baie verskillendes om van te kies. Belangrik is om jou gesigvorm in ag te neem.

Bronne: www.instyle.com, www.thisisinsider.com, www.allure.com, www.hellogiggles.com