Ná byna drie weke van ’n grendelstaat is dit moeilik om nie na die naaste skêr te gryp en jou haarpunte self te sny nie. Maar haarkappers waarsku dat dit jou duur te staan kan kom.

Sy sal nooit iemand aanraai om hul hare self tuis te sny nie, sê Boyd Meilhon, meester-stileerder by die haarsalon Carbon in Johannesburg. “Wanneer jy ’n huishoudelike skêr gebruik om jou hare te sny, kan dit erge gesplete punte veroorsaak omdat dié tipe skêr selde skerp genoeg is. Mettertyd beweeg die gesplete punte op met die haarskag en op die ou end gaan jou haarkapper baie van jou hare moet afsny om van die gesplete punte ontslae te raak.”

Wenk!

As jy raadop is met jou hare, vra jou haarstileerder vir ’n aanlyn konsultasie, sê Boyd. Dis ’n kans om jou stileerder in dié tyd van inperking te ondersteun en waardevolle hare-raad te kry.

As jy lus is om iets nuuts met jou hare te doen, stel Boyd voor jy eksperimenteer eerder met nuwe maniere om jou hare te stileer, soos om verskillende krultegnieke te oefen en rond te speel met haarbykomstighede. Dis ook die ideale tyd om jou hare glansend gesond te kry met haarbehandelings (probeer dié tuisbehandelings vir hare).

Jy kan selfs pret hê met kleur! “Jy kan ’n paar druppels voedselkleursel by jou opknapper voeg om jou hare bv. ’n pienk tint te gee. Dit was vinnig weer uit en is ’n maklike manier om iets nuuts te probeer.”

Wat van die manne?

Boyd stel voor dat mans slegs die hare weerskante van hul gesig en onder aan die agterkant van hul kop effens korter knip met ’n elektriese haarknipper. “Moenie ’n aanhegstuk kleiner as nommer 3 (10 mm) gebruik nie. Hoe groter die aanhegstuk, hoe minder is die kanse vir foute,” sê hy.

Bederf jou hare met dié produkte:

1. INOAR Argan Oil Shock Treatment (R185 vir 15 ml). By inoar.co.za

2. L’Oréal Paris Elvive Dream Lengths Heat Mask (R100)

3. Ellips Hair Vitamin Nutri Color (R199 vir 50 kapsules). By uitsoektakke van Clicks en takealot.com

4. TRESemmé Botanic Hair Food (R45)

5. John Frieda Miracle Drops Hair Mask Frizz Smoothing (R40). By Clicks