Vir Hollywood se elite is dit doodgewoon om die tekens van oudword met ’n towerstaf te laat verdwyn. Estetiese behandelings en prosedures is hul kitsoplossing, ongeag hoe duur.

Daarom is dit lekker om van tyd tot tyd te sien hoe sommige bekendes oudword vier en omarm. Vroue mag maar hul grys hare met trots dra! 

Die Britse TV-persoonlikheid Sharon Osbourne het sosiale media aan die gons nadat sy haar ikoniese rooi hare gegroet het. Ja, die kleur wat sy 18 jaar lank gedra het. Haar haarstileerder, Jack Martin, verklap dat sy weekliks sy salon besoek het om die rooi skakering mooi in stand te hou.

Volgens Jack wou sy al lankal haar rooi hare groet, maar weens ’n vorige mislukte poging was sy skrikkerig. 

FOTO Instagram / Jack Martin

Jack het ook die aktrise Jane Fonda se hare vir die Oscar-aand gekleur. Sy het pragtig gelyk met haar silwergrys hare en bewys dat grys allesbehalwe vervelig is. 

FOTO Instagram / Jack Martin

Voel jy ook lus om dié gewaagde kleur te probeer? 

Dís wat jy moet weet:

* Eksperimenteer met een van drie skakerings: staalgrys (’n helder skakering wat neig na silwer), grys met ’n effense pers ondertoon of  ’n wit-platinumblonde skakering. Dié skakerings is pret en nou hoogmode.

* Wanneer jy jou hare was, gebruik ’n bevogtigende sjampoe en opknapper om vog terug te sit, omdat die bleikproses die haarkutikel (die buitenste deel van jou hare) beskadig en veroorsaak dat vog makliker uit jou hare ontsnap.

* Platinumblonde en silwer hare kan ná ’n ruk geel begin lyk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper (soos ’n silwer of pers sjampoe) wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

* Die haarkleure lyk veral mooi op ’n douvars gelaat. Wend ’n pienkerige blosser op jou wange aan om jou gesig lewe te gee. Jy kan ook ’n bietjie verbronser aantik vir ’n warmer gelaat.

* Kies saam met jou platinum of silwer hare helder kleure vir jou lippe, soos rooi, pienk of koraal. Dis die maklikste manier om jou voorkoms op te helder en skep ’n fokuspunt op jou gesig.

Onthou net grys hare het spesiale sorg nodig. Grys hare is growwer omdat die natuurlike lipiedlaag wat elke haar bedek, dunner is. Dit veroorsaak dat jou hare vinniger bros en droog word. Die kopvel se natuurlike vervaardiging van olie begin ook afneem teen die tyd dat jy begin grys raak.

Grys hare kan geneties wees. Hoe vroeg jou ouers se hare grys geword het, kan vir jou ’n aanduiding gee van wanneer jy grys sal word. As gevolg van veroudering is dit onvermydelik. Nes ons vel, verouder en verander ons hare soos ons ouer word.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Volg dié wenke:

#1 Gebruik ’n goeie sjampoe en opknapper wat geformuleer is om hare te bevog en kroeserigheid teen te werk, sodat jou hare makliker is om te hanteer en stileer. Kyk uit vir haarsorgprodukte met woorde soos “anti-frizz”, “smoothing”, “hydrating” en “nourishing” op die bottel.                             

#2 Probeer ook ’n sjampoe en opknapper wat olie bevat. Dit help om die haarkutikels te seël sodat jou hare gladder lyk. Gladder hare blink meer omdat dit lig reflekteer.

#3 Hou jou grys hare gesond deur dit weekliks met ’n bevogtigingsmasker te behandel. Oorweeg dit ook om sowat elke drie maande ’n haarsalon te besoek vir ’n bevogtigende haarbehandeling.

#4 ’n Voedende haarolie is ’n móét-hê vir grys hare. Jy kan ’n haarolie aan jou klam hare wend nadat jy dit gewas het vir ekstra vog of ’n bietjie aan jou haarpunte wend nadat jy jou hare gestileer het om dit te voed en gladder te laat lyk.

#5 Grys hare kan maklik geel lyk ná ’n ruk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n silwer of pers sjampoe of opknapper wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

Bronne: www.allure.com, www.dailymail.co.uk

View this post on Instagram

On today’s @TheTalkCBS with @JamieLeeCurtis

A post shared by Sharon Osbourne (@sharonosbourne) on