Oor net bietjie meer as ’n maand trou prins Harry en die pragtige Meghan Markle in die kapel by die Windsor-kasteel in Engeland. Natuurlik kan die wêreld nie ophou praat oor hoe Meghan se trourok gaan lyk nie. En die SARIE-span is net so nuuskierig oor hoe sy haar hare gaan stileer!

Meghan dra haar hare eenvoudig en gemaklik en word meestal met sagte golwe of haar kenmerkende deurmekaar bolla gesien. Maar is dié style formeel genoeg vir die groot dag?

Aangesien dit ’n koninklike troue is, vermoed ons Meghan sal nie sommer haar hare net los dra nie, maar eerder in ’n halwe opstyl - soortgelyk aan die styl wat Kate op haar en prins William se troudag gedra het. Dis klassiek, maar nie te styf nie en sal gepas wees vir die trouseremonie én die onthaal later.

As sy ’n tiara gaan dra, is die kans goed dat haar hare in ’n elegante chignon gestileer sal word. So ’n styl sal nie sommer deurmekaar wees nie, maar ons sal mal wees daaroor as sy, eie aan haar persoonlike styl, steeds ’n paar haartjies rofweg rondom haar gesig uittrek.

Hoe ook al sy verkies om haar hare te dra, ons weet sy gaan pragtig lyk!