Die aktrise Christel van den Bergh is sedert die begin van inperking op vriende se wildsplaas buite Pongola, KwaZulu-Natal.

Haar geliefde honde is saam met haar en sy gaan draf elke dag saam met hulle. “Dit hou my sane en hulle maak my gelukkig.”

Christel is die laaste paar maande deur ’n moeilike tyd.

“Ek was so besig, ’n mens gaan net aan en deal nie eintlik met dit nie,” vertel sy. “So ek is nou geforseer om deur my emosies te werk. Dis nie lekker nie, dit maak seer, maar dis goed om daardeur te werk. Ek dink hierdie lockdown het vir my, in my persoonlike lewe, op ’n goeie tyd gekom. Ek neem tyd om te reflekteer en kyk terug op my lewe en fokus op wat eintlik belangrik is.”

Christel saam met haar hond, Rocky. FOTO Instagram / Christel van den Bergh

Haar karakter Renate in die kykNET-sepie Getroud met rugby gaan ook deur ’n moeilike tyd. Haar huwelik met Simon (Dawid Louw) is op die rotse en die krake is te diep om te vul.

Sy besef dit ontstel kykers. “Dit was vir my en Dawid bitter moeilik om hierdie storie te vertel. Ek hoop hulle vind hul pad terug na mekaar. Ek dink en glo daar is hoop,” sê sy. “Ongelukkig reflekteer Renate al haar emosies en aggressie op Simon en verwyt hom. Dit was verskriklik moeilik om dit te vertolk.”

FOTO Facebook / Getroud met rugby

Maar sy het begrip vir Renate. “As aktrise moet jy motivering gaan soek en kan empatiseer met die karakter wat jy vertolk, al weet jy die gehoor gaan nie noodwendig daarvan hou nie.” Die egskeiding was die produk van talle struikelblokke wat Renate en Simon se verhouding verander het.

Haar karakter in die sepie het besluit om haar haarstyl te verander en ’n kort bob met ’n sagte kuif gekry. Christel het die verandering verwelkom.

“Dis amper soos ’n nuwe begin. Ek dink nie Renate was heeltemal reg daarvoor nie, maar mens doen maar moeite met jou uiterlike voorkoms om jouself van binne af beter te laat voel. So dis definitief ’n simbool vir haar nuwe begin,” sê Christel.

En wat dink sy van Renate se nuwe kapsel? “Ek love dit!”

FOTO Instagram / Christel van den Bergh

Die vervaardiger en skepper van GMR, Deon Opperman, het Christel genader oor Renate se nuwe hare. “Ek het op Pinterest gaan kyk na haarstyle wat ek nog altyd wou gehad het en toe vir hom voorbeelde gestuur. Ek is mal daaroor, dis vir my edgy en jonger.”

Christel se raad vir iemand wat ’n kuif wil probeer?

“Moet dit nie self sny nie! Doen jou navorsing, want nie almal kan ’n kuif goed sny nie. Begin jou kuif eers bietjie langer dra en dan kan jy dit korter en korter laat sny.”