Weens die Covid-19-pandemie is Suid-Afrikaners reeds meer as 30 dae in hul huise ingeperk, nou tydens vlak 4 lyk dinge darem bietjie anders. Almal het so bietjie TLC nodig, en jou vel en hare het beslis al beter dae gesien.

Baie vroue is radeloos oor hul grys hare wat uitgroei en niemand weet nog wanneer hulle weer hul gunsteling-haarkapper sal kan besoek nie. 

Die Hollywood-aktrise Eva Longoria Baston het onlangs op sosiale media ’n video gedeel waarin sy verklap hoe sy in ’n kits van haar grys hare ontslae raak. 

In die video wys sy haar grys hare en vertel dat sy die afgelope tyd al hoe meer daarmee sukkel. Haar oplossing is heel eenvoudig: ’n gekleurde haarsproei!

View this post on Instagram

@lorealparis

A post shared by Eva Longoria Baston (@evalongoria) on

Stap vir stap

1. Kam jou hare in die styl waarin jy dit wil dra (kant- of middelpaadjie).

2. Sproei die haarsproei stelselmatig op seksies van jou hare. 

3. Trek jou hare effens plat en reguit met jou hande om seker te maak dat jy al die grys hare mooi egalig bedek.

ONTHOU
Hou die haarsproei so 10 cm van jou gesig af wanneer jy dit gebruik.

Gekleurde haarsproei is beslis nou jou beste én veiligste opsie om jou haarkleur in stand te hou. Dit is nie nou die tyd om self haarkapper te probeer speel nie. As jy jou hare nou self begin kleur of die naaste skêr gryp om jou haarpunte te sny, kan dit jou ná die inperking duur te staan kom, waarsku Kelly Red, ’n professionele haarstilis in ’n onlangse mediaverklaring van label.m.

SARIE se skoonheidsredakteur, Monica van der Walt, het in ’n onlangse webartikel verduidelik hoekom jy nie nou waaghalsige besluite moet neem nie. Lees meer hier.

Probeer dié produkte

L’Oréal Instant Root Concealer Spray Magic Retouch (R100) 

Schwarzkopf Root Retoucher Instant Root Cover Spray (R100)

Everpro Beauty Back 2 Blonde Root Concealer Spray (R146) By Clicks.