Die Oscars is die grootste glansaand in Hollywood se toekenningseisoen en gewoonlik sit die sterre hul beste voetjie voor. SARIE se moderedakteur, Amaria Carstens, meen egter vanjaar was ’n effense teleurstelling en min uitrustings het haar asem werklik weggeslaan.

Aktrise Margot Robbie se Chanel-skepping het dalk nie die kollig gesteel nie, maar haar blonde krulle was foutloos. Die voorkoms was pure ou Hollywood-glans, dit het aan Marilyn Monroe se lokke herinner, maar tog met ’n moderne kinkel.

FOTO Instagram / Bryce Scarlett

Die haarstyl verg tyd en moeite, en baie vroue sukkel ook om die krulle mooi in plek te hou deur die loop van die dag. 

In ’n mediaverklaring van Moroccanoil verduidelik die haarstilis Bryce Scarlett stap vir stap hoe hy Margot se krulle geskep het. Dis noodsaaklik dat die regte produkte ingespan word om die krulle te laat inbly.

Hier is ’n paar slim wenke:

  • Wend ’n stileringsroom aan jou klam hare voordat jy dit begin droogblaas. Dit sal jou hare hidreer en kroeserigheid help tem sodat jou krulle gesond en mooi gedefinieer is.
  • Stileer vooraf reeds jou hare in ’n middel- of kantpaadjie.
  • Neem jou hare stuk vir stuk en draai dit na jou gesig toe met die krultang. 
  • Kam die krulle effens uit met ’n borsel van varkbeerhare (boar bristle brush
  • Kies ’n goeie haarsproei vir houkrag. Dis belangrik om ’n haarsproei te kies met ’n liggewigte en kragtige formule wat jou krulle se golwende vorm nie sal laat uitsak nie, maar mooi laat hou. 
FOTO Instagram / Kate Young

Bryce het Moroccanoil se Luminous Hairspray Medium (R420) gebruik. Dié haarsproei se liggewig-formule hou krulle mooi in plek en laat jou hare nie taai voel nie. Arganolie voed jou hare en skep glans. 

Probeer ghd se nuwe Platinum+ Styler Deep Scarlet collection with exclusive bag (R3 400) wat spesiaal vir Valentynsdag bekendgestel is. Dié pragtige haartang is perfek om jou hare mee te krul. Die haartang bevat sensors wat die temperatuur reguleer om jou hare nie te beskadig nie. Beskikbaar vir ’n beperkte tyd in uitsoeksalonne.