Is jy op soek na nuwe hare-inspirasie vir 2018? Probeer ’n kuif! Ons is mal oor die nuwe kort, versnipperde kuif waarmee die aktrise Emma Watson by die Golden Globe-toekennings gepronk het. Dié sogenaamde baby bangs (gordyntjie) bedek net die boonste helfte van jou voorkop en was veral in die 1990’s ’n gewilde kuifsnit. Ons dink dit pas Emma perfek: Dis vars en effens gewaagd, dog sjiek.

As jy ook lus is om vanjaar iets nuuts met jou hare te doen, is ’n kuif van die maklikste en vinnigste maniere om nuwe lewe in jou haarstyl te blaas.

Hou dié wenke in gedagte …

* ’n Versnipperde of stomp, kort kuif beklemtoon jou gesigvorm en lyk daarom beter by ’n lang of ovaalvormige gesig. Vermy dit eerder as jy ’n ronde, vierkantige of hartvormige gesigvorm het. Dit sal net meer aandag na jou voorkop trek en dit breër laat lyk.

* Die snit laat ook jou wenkbroue uitstaan, so sorg dat dit mooi gevorm is en vol lyk.

* Onthou, baby bangs moet daagliks gestileer word. Begin deur ’n haarserum wat glans gee op jou kuif aan te wend net nadat jy jou hare gewas en afgedroog het. Blaas dan jou kuif droog terwyl jy dit met jou haarborsel teen jou voorkop borsel. As dit nodig is, kan jy daarna ’n haaryster gebruik om jou kuif glad te stryk.

* As jy bekommerd is dat jou kuif deur die dag olierig gaan begin lyk, spuit soggens ’n paar spuitjies droë sjampoe aan die agterkant van jou kuif. Dit sal help om oortollige olie wat deur die dag vorm te absorbeer.

We’re definitely Gryffindors. #goldenglobes #squad #gryffindor #emmastone

A post shared by Billie Jean King (@billiejeanking) on