Die Mexikaanse aktrise Salma Hayek is bekend vir haar golwende, lang donkerbruin hare. Maar vir haar nuwe film, The Hummingbird Project, moes sy haar voorkoms effe verander.

FOTO: Getty / Gallo Images

Salma vertolk die rol van die baasspelerige hoof van ’n handelsmaatskappy. Sy beskryf haar karakter as iemand wat dink sy is die beste in alles wat sy aanpak, altyd op die voorpunt van die jongste en die nuutste. Die karakter moes dus ’n unieke voorkoms hê, vandaar die grys hare.

FOTO: Instagram/@jennifer_yepez
FOTO: Instagram/@jennifer_yepez
FOTO: Instagram/@jennifer_yepez

Die stilis Jennifer Yepez het Salma se hare vir die film gestileer. Sy het ’n paar foto’s van die aktrise met haar grys hare gedeel! Haar hare is donkerder by die wortels en ligter en effens silwer na die punte toe, ’n haarstyl wat nou hoogmode is.

Jennifer het aan Allure verklap Salma dra net ’n pruik. Ons is wel gaande oor die 52-jarige aktrise se ikoniese donker lokke, maar dis nou bewys dat Salma net so mooi met grys hare lyk!

Bekendes met grys hare:

Meryl Streep

FOTO: Getty / Gallo Images

Anna-Mart van der Merwe

FOTO: Leana Clunies-Ross

Kim Kardashian

FOTO: Getty / Gallo Images

Jackie Burger

FOTO: Instagram/@jackieburger
FOTO: Instagram/@jackieburger

Lady Gaga

FOTO: Getty / Gallo Images

Hailey Baldwin

FOTO: Instagram/@haileybaldwin

Voel jy ook lus om so ’n gewaagde kleur uit te probeer? Dís wat jy moet weet:

* Eksperimenteer met een van drie skakerings: staalgrys (’n helder skakering wat neig na silwer), grys met ’n effense pers ondertoon of  ’n wit-platinumblonde skakering. Dié skakerings is pret en nou hoogmode.

* Wanneer jy jou hare was, gebruik ’n bevogtigende sjampoe en opknapper om vog terug te sit, omdat die bleikproses die haarkutikel (die buitenste deel van jou hare) beskadig en veroorsaak dat vog makliker uit jou hare ontsnap.

* Platinumblonde en silwer hare kan ná ’n ruk geel begin lyk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper (soos ’n silwer of pers sjampoe) wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

* Die haarkleure lyk veral mooi op ’n douvars gelaat. Wend ’n pienkerige blosser op jou wange aan om jou gesig lewe te gee. Jy kan ook ’n bietjie verbronser aantik vir ’n warmer gelaat.

* Kies saam met jou platinum of silwer hare helder kleure vir jou lippe, soos rooi, pienk of koraal. Dis die maklikste manier om jou voorkoms op te helder en skep ’n fokuspunt op jou gesig.

Probeer dié produkte:

1. INOAR Speed Blond Duo Kit (R500). By uitsoeksalonne en aanlyn by www.inoar.co.za

2. Schwarzkopf Gliss Hair Repair Hyaluron Hair Filler+ (R89)

3. Dove Nutritive Solutions Nourishing Oil Care Shampoo (R69 vir 400 ml) en Conditioner (R69 vir 350 ml)

Bronne: www.hollywoodreporter.com, www.allure.com

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady Emblem, INOAR, Isa Carstens Academy, Kalahari en kykNET.