Die Afrikaanse sangeres en Boer soek 'n vrou-aanbieder Leah gewilder as ooit. En wie kan haar mooi blonde hare miskyk? Die SARIE-skoonheidspan het met Leah se haarstilis, Wessel Gerber, gesels oor die geheim agter haar blonde lokke.

Wessel is die eienaar van die Vat Dit Kop Toe Hair Boutique in Durbanville en dis te danke aan hom dat bekendes soos Leah se hare altyd eksieperfeksie lyk.

“My spesialiteit is blond. Almal kan ’n blondine wees, dit is net om die persoon se blond uit duisende opsies te kies. Dit is meer ’n gevoel as wat dit ’n look is,” sê Wessel. “Blond is nie net ’n keuse nie, dis ’n evolusie."

FOTO: Instagram/@leahmusieksa

Leah se hare was ’n goudblond skakering toe sy die eerste keer by Vat Dit Kop Toe ingestap het. Wessel wou haar hare ’n suiwer blond maak. Volgens hom kan blonde hare maklik geel lyk op die TV-skerm. Dít is hoekom hy verkies om met koeler skakerings te werk. “Mense besef nie altyd hoe verskillend haarkleur in kunsmatige lig of selfs buite in die son kan lyk nie.”

FOTO: Instagram/@leahmusieksa

Wessel deel van sy top-wenke en hoe hy te werk gaan om Leah se hare so foutloos te laat lyk:

1. Blondines moet gereeld ’n haarmasker pleks van ’n opknapper gebruik. Die haarkutikels is oop nadat dit gebleik word, dis dan die perfekte tyd om die voedingstowwe wat die hare tydens die kleurproses verloor het, terug te sit. ’n Goeie masker bevat gekonsentreerde voedingstowwe om die hare te voed en gesond te hou.

2. Gebruik professionele produkte wat jou haarstilis spesifiek aanbeveel.

3. Leah dra Seamless 1 Extensions om haar hare meer volume te gee.

4. Leah gebruik Seamless 1 se sjampoe en opknapper vir blondines.

5. Om daardie suiwer blond te kry word geen tweede kleur of kontraskleur bygevoeg nie. Jou eie natuurlike hare kan die kontras vorm. Só bly jou hare suiwer, helder en glansend.