Ons almal geniet die buitelug in die somer, maar onthou, eksterne faktore soos die son, humiditeit, wind, chloor- en soutwater kan jou hare se glans steel. Volg dié top-raad vir ’n mooi, gesonde kroon. 

RAAD VIR OLIERIGHEID

Fyn, reguit hare kan in die somer vinnig plat en leweloos lyk omdat hoër temperature veroorsaak dat jou kopvel oortollige sebum vervaardig. Dikwels word die probleem vererger deur produkte wat op jou kopvel en hare agterbly omdat dit te ryk is of nie deeglik afgespoel word nie.

As jy sukkel met hare wat maklik olierig lyk, wees op die uitkyk vir sjampoes en opknappers met ’n ligte (dikwels deursigtige) formule wat jou hare behoorlik sal reinig en bevog sonder om dit swaar te maak, sê Ulrica Maia, opleidingsbestuurder van die haarsorgreeks Joico in SA.

“Vermy veral om ryk opknappers en maskers by jou haarwortels aan te wend. Gebruik dit net op jou haarlengtes en -punte.” En natuurlik is ’n droë sjampoe ’n moet-hê vir jou handsak. 

Probeer:

Dié sjampoe en opknapper span miselwatertegnologie (’n reinigingsformule met olie-molekules in water) in wat aan onsuiwerhede klou en dit verwyder – Hask Micellar Water & Lotus Anti-Residue Shampoo en Gel Conditioner (R150 elk). By Clicks