Foutlose krulle wat hóú bly ’n raaisel. Óf die krulle lyk te opgesmuk en onnatuurlik óf dit verdwyn deur die loop van die dag.

Die SARIE-skoonheidspan het al verskeie kere wenke gedeel om dié haarvoorkoms te bemeester, maar die nuutste truuk hieroor op sosiale media sou ons nooit kon raai nie …

Dit behels dat jy jou kamerjas se belt inspan! Op TikTok deel vroue hoe jy die tegniek baasraak en die eindresultaat is omtrent belowend.

Kyk net hier: 

Volg dié stappe:

1. Verdeel jou hare in twee met ’n kant- of middelpaadjie.

ONTHOU
Jou hare gaan makliker krul as dit effens klam is. Maak sommer jou borsel nat en borsel dan jou hare. Hoe klammer jou hare, hoe meer gedefinieerd sal die krulle wees.

2. Sit jou kamerjas se belt mooi plat oor jou kop soos ’n haarband.

3. Begin so naby as moontlik aan jou paadjie deur ’n klein string hare te neem en oor die belt te plaas en dan die string onder die belt na vore te bring. 

4. Probeer om dieselfde tegniek as met ’n Franse vlegsel na te boots deur nog ’n string hare by die eerste gevlegte gedeelte te voeg en die metode in stap 3 te herhaal. Onthou om so styf as moontlik te vleg.

5. Herhaal die proses totdat al jou hare gevleg is.

6. Maak die twee gedeeltes en die twee punte van die belt met haarrekkies vas.

7. Slaap met dié vreemde haarstyl en verwyder die belt die volgende oggend.

8. Stileer jou krulle soos verkies en rond dit met haarsproei af om seker te maak dat die haarvoorkoms mooi behoue bly.

FOTO TikTok / Bri Harmon