Sedert prins Harry en die Amerikaanse aktrise Meghan Markle se verlowing hou ons saam met die res van die wêreld dié stralende paartjie met ’n valkoog dop. Sodra die 36-jarige donkerkop in die openbaar verskyn, verkoop die klere en bykomstighede wat sy dra binne enkele minute uit en skarrel aanhangers om uit te vind watter hare- en grimeerprodukte sy gebruik. Die media het dié verskynsel die “Meghan Markle-effek” gedoop. Nou het Meghan se nuutste haarstyl die internet behoorlik aan die gons.

Tydens ’n amptelike besoek aan die radiostasie Reprezent in Brixton, Londen, het Meghan haar hare in ’n eenvoudige, effens deurmekaar bolla gedra. Talle aanhangers was mal oor die styl omdat dit ongewoon is vir ’n koninklike om so ’n gemaklike voorkoms vir ’n amptelike geleentheid te kies. Dink maar net aan haar toekomstige skoonsuster Kate Middleton, wat gewoonlik met ’n lae, netjiese chignon spog. Daar was egter ook kritiek van mense wat voel haar hare is té onnet en onprofessioneel. Wat dink jy van haar bolla-styl?

As ’n toekomstige koninklike word daar nou van Meghan verwag om altyd op haar beste te lyk. Nes Kate dra sy graag haar hare glad uitgeblaas met sagte volume en verkies sy ’n natuurlike, meer neutrale grimeervoorkoms.

Het jy geweet?

Meghan lyk net so mooi met krulle! Die Amerikaanse blogger Kamie Crawford het onlangs dié skoolfoto’s van Meghan getwiet waar sy met haar natuurlike krulhare spog.

Bronne: www.goodhousekeeping.com, www.dailymail.co.uk, www.popsugar.com