Die model en TV-aanbieder Minki van der Westhuizen het gister haar aanhangers verras met ’n nuwe haarkleur. Minki en die grimeerkunstenaar Marí Conradie het ’n paar foto’s op Instagram gedeel waar Minki se hare nou ’n ligter platinum-blond skakering is. Haar hare was nog altyd blond, maar dis die eerste keer wat ons dit só lig sien! 

’n Geheime nuwe projek waaraan Minki tans werk is moontlik die rede agter dié haarkleurverandering. Hoewel sy nog nie enigiets oor die projek mag verklap nie, sien ons uit om Minki met haar nuwe kapsel te sien.

Platinum-blond is die laaste jaar baie gewild. Bekendes soos Kim Kardashian, Karlie Kloss, Michelle Williams en Candice Swanepoel het almal al dié skakering gedra.

FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Getty Images / Gallo Images
FOTO: Instagram/@angelcandices

Maar wees versigtig, dit is nie ’n haarkleur wat noodwendig by almal pas nie. ’n Meer romerige platinum-blond met effense wit en goue skakerings tussenin is daarom ’n goeie alternatief vir blondines dié somer. Dis nuut en jeugdig en pas boonop by die meeste velkleure.

Voel jy ook lus om jou hare platinum-blond te kleur?

Hier’s 6 dinge wat jy móét weet:

* Platinum-blond is gewaagd en pas die beste by ’n ligte gelaatskleur met ’n koel of pienk ondertoon. Op ’n donkerder gelaat kan dit maklik vaal en uitgewas vertoon en jou ouer laat lyk.

* Hoe donkerder jou hare, hoe meer kleursessies (tot drie salonbesoeke) neem dit om die platinum-blonde kleur te kry. Jou hare moet eers geleidelik ligter gebleik word voordat die stilis dit uiteindelik platinum-blond kan kleur.

* Tydens die bleikproses word die haarkutikel (die omhulsel om die haarskag) beskadig, wat veroorsaak dat vog makliker uit jou hare ontsnap. Wanneer jy jou hare was, gebruik ’n bevogtigende sjampoe en opknapper om die vog terug te sit.

* Platinum-blonde hare kan ná ’n ruk geel begin lyk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper (soos ’n silwer of pers sjampoe) wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

* Platinum-blonde hare lyk veral mooi op ’n douvars gelaat. Wend ’n pienkerige blosser op jou wange aan om jou gesig lewe te gee. En hou jou ooggrimering meer subtiel.

* Kies helderder kleure vir jou lippe, soos rooi, pienk of koraal. Dis die maklikste manier om jou voorkoms op te helder en skep ’n fokuspunt op jou gesig. As jy jonger is en jou gelaat bloesend, kan jy speel met neutrale lipskakerings.