Nadia Valvekens

My haartipe

Ek het fyn hare, maar báie daarvan. Ek is gelukkig, want ek kan dit lank of kort dra. Dit moet net uitgedun word, andersins is dit te swaar en lyk dit “pap”.

Grootste uitdaging

Omdat my hare byna elke dag uitgeblaas word en daar soms ook ligstrepies of kleur ingesit word, is dit met tye droog. Ek gebruik ’n ligte haarolie om te help vir die droogheid.

Ruskans

Oor naweke doen ek niks met my hare nie omdat dit gedurende die week so baie by die werk gestileer word. Ek los dit om self droog te word en sal bv. net ’n haarband insit. Ek oefen gereeld in die gimnasium en gaan sit soms in die stoomkamer. Om een of ander rede is die stoom goed vir my hare. Dit voel of my hare asemhaal en dit is baie sag daarna.

My wenk

Die produkte wat jy gebruik, is baie belangrik. ’n Hittebeskermingserum word in my hare gevryf voordat dit uitgeblaas word en ’n waks word ná die tyd aangewend om tekstuur te gee.

Moenie kort(er) hare vrees nie

Ek was op my senuwees om my hare destyds in ’n pixiestyl te sny. Ek het gedink wat as dit nie by my pas nie? Kort hare laat jou ook so ontbloot voel. Maar ek was mal daaroor. Dit is nie nodig om bang te wees om jou hare korter te sny nie. Onthou, hare groei weer!

Nooit weer nie!

Ek het my hare eenkeer self donker gekleur met ’n kleurmousse. Toe dit begin uitwas, was dit pienk. Dit het seker ses maande daarna nog ’n pienk skynsel gehad!

Amalia Uys

My haartipe

Ek het dik hare met ’n natuurlike krul wat soms effens frizz. Dít is hoekom ek so ver moontlik van baie kort snitte wegbly. Ek hou my hare eerder lank en flowy.

Grootste uitdaging

Eintlik net tydsbestuur, want ek kan basies enigiets met my hare doen solank ek genoeg tyd het om daaraan te bestee. Die vinnigste is om dit sommer net te diffuse [jy maak jou hare droog met ’n haardroër se hitteverspreiding - stuk] sodat dit krul. Gelukkig hou ek van my krulle!

Dít sal ek nooit doen nie

Ek dink nie ek sal goed lyk as ’n blondine nie. Ek sal dalk so ’n bietjie soos ’n vaal muis lyk.

My wenk

Krulhare het baie vog nodig, daarom gebruik ek altyd goeie opknappers en maskers. As ek self my hare stileer, kam ek dit met ’n wyetandkam en los dit om natuurlik droog te word. Ná die tyd gebruik ek produkte wat frizz teenwerk en my krulle definisie gee. As ek ’n bietjie meer moeite wil doen, diffuse ek dit en sit ’n paar krulle met ’n krultang in. Wanneer my tyd beperk is, maak ek dit in ’n hoë bolla vas saam met funky oogomlyner en rooi lippe. 

Trotse rooikop

Ek hét al soms gewens ek was ’n brunet met ’n olyfkleurige vel, maar eintlik was ek nog altyd lief vir my rooi hare. Ek is ’n vrygees en my hare is soos my kroon. Dit pas by my! Ek kleur dit rooibruin om my natuurlike kleur so ’n bietjie te beklemtoon. Dit laat my hare meer blink en dit vestig die aandag op my oë en vel.