Ons almal begeer gesonde, glansende lokke! Maar soms voel dit asof jou haarsorg-roetine net nie wil wérk nie. Jou hare lyk alewig plat en leweloos, dit word vinnig olierig óf jy sukkel om jou frizzy hare te tem. Is jy dalk skuldig aan een van dié haarwas-blapse?

’n Paar veranderinge aan jou haarwas-roetine is dalk net die oplossing ...

Half-up styles like an exquisite wave are why summer is one of our favorite things. #HOTD #springhair

A post shared by TRESemmé (@tresemme) on

#1 Jy gebruik te veel sjampoe en opknapper

Ons gebruik dikwels te veel van ons haarprodukte op ’n keer. Wees meer ekonomies en laat jou sjampoe en opknapper langer hou deur nie meer as die volgende hoeveelhede te gebruik nie:

Sjampoe – 1 eetlepel is genoeg. Meng dit met baie water sodat dit goed skuim.

Opknapper – ’n maksimum van 2 eetlepels as jou hare baie lank is, en minder vir korter, fyn hare.

#2 Jy mors sjampoe deur dit op ál jou hare aan te wend

Jy hoef sjampoe slegs op jou haarwortels en kopvel aan te wend. Dis waar natuurlike olies opbou. As jy sjampoe op jou haarpunte sit, kan dit die punte net nog verder laat uitdroog.

#3 Jy wend opknapper op ál jou hare aan

Jy hoef nie opknapper op jou haarwortels te gebruik nie (veral nie as jou hare maklik olierig word nie); net op die onderste deel van jou hare wat droër is.

#4 Jy spoel jou hare nie goed genoeg af nadat jy opknapper aangewend het nie

Dit kan veroorsaak dat jou hare plat, leweloos en selfs olierig lyk, veral as jy fyn en/of baie reguit hare het. Dit maak al klaar ’n groot verskil om die regte haarprodukte vir jou haartipe te gebruik.

#5 Jy was jou hare te veel

Jou hare se natuurlike olies kry dan nie kans om die volle lengte van jou hare te voed nie. As jou kopvel gereeld van sy natuurlike olies gestroop word, kompenseer jou vel deur al hoe meer olie te vervaardig. Dít kan lei tot ’n oorproduksie van olie. Gebruik ’n droë sjampoe tussen wasdae om jou hare vars te hou.

#6 Jy was jou hare te min en maak te veel staat op droë sjampoe

Moenie ’n droë sjampoe meer as twee dae ná mekaar gebruik sonder om jou hare te was nie. Onsuiwerhede en die droë sjampoe se bestanddele kan metteryd opbou en jou kopvel begin uitdroog, irriteer of selfs binne-in die haarfollikels gaan lê en tot droë vlokkies of ’n uitslag op jou kopvel lei.

#7 Jy vryf jou nat hare verkeerd droog

As jy jou hare grofweg met ’n handdoek droog vryf nadat jy dit gewas het, gaan lê die haarkutikels (die buitenste deel van jou hare wat soos skubbe oormekaar lê) grof en oneweredig. Dit beskadig ook jou hare en laat dit koek. Druk eerder die water uit jou hare met die handdoek, sonder om jou kop onderstebo te gooi. Haarkutikels wat glad oormekaar lê, blink meer omdat dit lig reflekteer.

Bykomende bronne: www.glamour.com, www.goodhousekeeping.com