Die 52-jarige Mexikaanse aktrise Salma Hayek het op sosiale media ’n foto van haar natuurlike grys hare gedeel. Haar kenmerkende donker lokke word hier en daar met lang grys hare versier. Sy sê dat sy trots op haar grys hare is. En ons hou ook daarvan!

View this post on Instagram

#proud of my white hair. Orgullosa de mis canas. #hair

A post shared by Salma Hayek Pinault (@salmahayek) on

Ons is gaande oor Salma se positiewe houding. Vrouens mag maar hul grys hare met trots dra! Ouderdom is immers ’n ingesteldheid en die kleur van jou hare is nie ’n direkte weerspieëling van jou ouderdom nie.

Het jy geweet?

Klein selle aan die onderkant van jou kopvel se epidermis, genaamd melanosiete, is verantwoordelik vir die kleurpigmente in jou hare, Soos ons ouer word, begin dié selle al hoe minder doeltreffend werk totdat dit heeltemal ophou om kleurpigmente te vervaardig.

Grys hare het wel spesiale sorg nodig. Grys hare is growwer omdat die natuurlike lipiedlaag wat elke haar bedek dunner is. Dit veroorsaak dat jou hare vinniger bros en droog word. Die kopvel se natuurlike vervaardiging van olie begin ook afneem teen die tyd dat jy begin grys raak. Grys hare kan geneties wees, afhangende van hoe vroeg jou ouers se hare grys geword het, sal vir jou ’n goeie aanduiding gee van hoe vroeg jy moontlik kan grys word. Maar as gevolg van veroudering is dit onvermydelik. Nes ons vel, verouder en verander ons hare hoe ouer ons word.

horizontal shot of gray straight hair, shiny and h
FOTO Getty Images / Gallo Images

Volg die wenke:

#1 Gebruik ’n goeiegehalte-sjampoe en -opknapper wat geformuleer is om hare te bevog en kroeserigheid teen te werk sodat jou hare makliker is om te hanteer en stileer. Kyk uit vir haarsorgprodukte met woorde soos “anti-frizz”, “smoothing”, “hydrating” en “nourishing” op die verpakking.

#2 Probeer ook ’n sjampoe en opknapper wat olie bevat. Dit help om die haarkutikels te seël sodat jou hare gladder lyk. Gladder hare blink meer omdat dit lig reflekteer.

#3 Hou jou grys hare gesond deur dit weekliks met ’n bevogtigingsmasker te behandel. Oorweeg dit ook om sowat elke drie maande ’n haarsalon te besoek vir ’n bevogtigende haarbehandeling.

#4 ’n Voedende haarolie is ’n móét-hê vir grys hare. Jy kan ’n haarolie aan jou klam hare wend nadat jy dit gewas het vir ekstra vog of ’n bietjie aan jou haarpunte wend nadat jy jou hare gestileer het om dit te voed en gladder te laat lyk.

#5 Grys hare kan maklik geel lyk ná ’n ruk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper wat geelheid (soos ’n silwer of pers sjampoe) teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.