Tydens die droë wintermaande is ons hare geneig om meer kroeserig (frizzy) te wees. Droë en growwe hare is geneig om vaal en glansloos te lyk. Die oorsaak is dikwels ’n gebrek aan die natuurlike lipiedlaag wat elke haar bedek. As die buitenste deel van die hare nie genoeg beskerming bied nie, veroorsaak dit ook dat die binneste deel van jou hare vinnig keratien (’n tipe proteïen) verloor. Hoewel goeie tuissorg noodsaaklik is, maak ’n gereelde haarbehandeling by ’n salon ’n reuse-verskil om onder meer langdurige droogheid en kroeserigheid te tem. “Dit versterk jou hare met net die regte hoeveelheid proteïne en werk dieper in die haarskag om dit van binne gesond te maak. Jou hare sal dan ook meer hanteerbaar wees sodat dit nie nodig is om dit so gereeld uit te blaas of glad te stryk nie,” sê Karen Botha, bemarkingsbestuurder van die Brasiliaanse haarsorgreeks Inoar in Suid-Afrika.

SARIE se skoonheidsredakteur, Monica Pienaar, het ’n keratienhaarbehandeling vir kroeserige hare getoets:

FOTO: Phyllis Green

"Nes ’n vullerbehandeling plooie en lyntjies op jou vel versag, is die Inoar Keratin Treatment ontwikkel om gaatjies diep binne die haarskag te seël met onder meer aminosure. Dit voed en herstel enige winterskade aan jou hare sodat dit gesond, sag en makliker hanteerbaar is. Dit vorm ook ’n beskermende lagie om jou haarkutikels, wat die voorkoms van kroeserigheid verminder en jou hare glans gee. Die behandeling duur sowat drie ure. My hare is gewas waarna ’n spesiale keratien-formule vir 20 minute aangewend is. Die produk is toe met ’n haaryster in my hare in gestryk. Dit verseker dat die formule behoorlik in die haarskag ingeseël word. Daarna word die produk weer uitgespoel en ’n bevogtigende masker aangewend. Laastens is my hare mooi glad uitgeblaas. My hare was ná die behandeling onmiddellik sag en glansend sonder enige kroeserigheid. My lang hare het skoon ligter gevoel! Die resultate van dié behandeling hou boonop so twee tot drie maande."

Prys: Vanaf R600, by uitsoeksalonne

Onthou!

Ná so ’n behandeling is dit belangrik om ’n sulfaatvrye sjampoe te gebruik. ’n Sjampoe wat sulfaat bevat sal daartoe lei dat die behandeling te vinnig uit jou hare 'uitlek' en dus sal enige kroeserigheid weer terugkeer. Probeer Inoar se Kálice Shampoo (R280) en Multi-Functional Mask (R400) wat elk vitamien E en sewe voedende natuurlike olies bevat. By uitsoeksalonne of aanlyn by www.inoar.co.za

SARIE Voorbladgesig 2018 word met trots geborg deur Montblanc Lady Emblem, INOAR, Isa Carstens Academy, Kalahari en kykNET.