Om jou hare gereeld te was, vorm deel van jou roetine. Ons spring in die stort, was ons lyf en dan sommer ook ons hare. Deel van ons proses is om seker te maak daai sjampoe vorm genoeg skuim, sodat ons hare “skoon” voel.

FOTO: Getty

Daar's tans ’n beweging om nie jou hare meer met sjampoe te was nie, maar eerder om van ’n meer natuurlike mengsel of produk gebruik te maak. Dis belangrik om te verstaan hoe sjampoe werk en watter effek dit op jou hare en kopvel het.

Jou kopvel produseer sebum. Sebum bedek jou haarfollikels (cuticle) sowel as die buitenste keratin laag van elke haar wat ’n blink voorkoms tot gevolg het.  Die opeenhoping van te veel sebum maak dat jou hare olierig en vuil lyk. Sebum is grotendeels waterbestand en dus kan jy nie jou hare met slegs water skoonwas nie. Dís waarom ons sjampoe gebruik! Sjampoe bevat ’n reinigingsmiddel wat help om die sebum weg te was en só lyk jou hare weer skoon.

Ons is geneig om te veel ons hare te was en dus word al die sebum van ons kopvel verwyder. Dit is dan wanneer jou sebaceous klier oorreageer en óf te veel sebum óf minimale sebum, produseer. Dus is jou hare gereeld baie olierig of verskriklik uitgedroog en leweloos.

’n Goeie oplossing is om ’n meer natuurlike mengsel of produk te gebruik wat nie jou natuurlike haarprosesse sal versteur nie. Probeer ook om jou hare so min as moontlik te was.

Probeer hierdie natuurlike brousel:

1.     15ml Koeksoda

2.     60ml Asyn

3.     2 Koppies water

4.     2 Spuitbottels

Sjampoe

Meng die 15ml koeksoda en 1 koppie water in die spuitbottel. Skud die bottel om seker te maak dat die bestanddele behoorlik gemeng is. Gebruik dié mengsel om jou hare skoon te was.

Opknapper

Meng die 60ml asyn en 1 koppie water in die spuitbottel. Skud die bottel om seker te maak dat die bestanddele behoorlik gemeng is. Gebruik dié mengsel as jou nuwe opknapper, maar wend dit oor al jou hare en jou kopvel aan.

Dit neem bietjie tyd om hieraan gewoond te raak, maar jou hare sal beslis sagter en gesonder met voel. Hierdie natuurlike opsie moenie daagliks gebruik word nie.

Daar is ook natuurlike sjampoe beskikbaar wat geen sulfate en parabens bevat nie:

1. Inoar Efeito Photoshop Sjampoe en Opknapper (R500)

Beskikbaar by uitsoek-salonne of aanlyn by www.inoar.co.za

Hier volg ’n paar wenke oor hoe om jou hare korrek te was:

1. Spoel jou hare ordentlik uit

Moenie jou hare met stomende water afspoel nie, dit sal jou hare uitdroog. Gebruik louwarm water. Gedurende hierdie proses, kry jou kopvel se porieë kans om oop te gaan.

2. Gebruik koue water

Ja, koue water help om jou haarfollikels (cuticles) met vog te seel sodat jou hare nie uitdroog nie. Gebruik koue water om die sjampoe af te spoel.

3. Moenie jou hare te veel droogvryf nie

FOTO: Getty

Gebruik ’n handdoek om die oortollige water liggies uit te druk. Sodra die hare heen en weer gevryf word, word jou hare beskadig en kan dit tot gesplete punte lei.

4. Moenie opknapper aan jou kopvel wend nie

Die opknapper kan jou follikels verstop. Jou hare sal dan ook vinniger olierig lyk nadat jy dit gewas het.

5. Masseer in plaas van skrop

Die sjampoe moet liggies in sirkel-bewegings in jou kopvel ingevryf word. Só sal jou kopvel gestimuleer word.

Bronne: www.askmen.com, www.stylecraze.com

Vanjaar se SARIE Voorbladgesig word moontlik gemaak deur Montblanc, INOAR, kykNET, Isa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle. Onthou om in jou Augustus 2018-uitgawe te kyk wie die SARIE Voorbladgesig se top-10 gehaal het.