Die dodelike koronavirus (Covid-19) het die hele wêreld tot stilstand gedwing. Skole en universiteite is toe, byeenkomste word uitgestel en internasionale vlugte word streng beperk. Baie mense moet van die huis af werk. 

Ook afsprake wat maande tevore gemaak is, moet noodgedwonge gekanselleer word. Hoe minder jy met die buitewêreld in kontak kom, hoe beter vir jou eie gesondheid en die mense rondom jou. Maar hoe gemaak met jou hare as jy nie haarkapper toe kan gaan nie? Hier is slim wenke wat jy tuis kan inspan.

Probeer dié haarmaskers:

Die haarsorgreeks Garnier Nutrisse het verlede jaar in 'n mediaverklaring twee maklike resepte vir haarmaskers gedeel wat jy tuis kan meng. Die bestanddele is dinge wat jy heel moontlik reeds in jou kombuis het. 

Inbly-opknapper:

’n Inbly-opknapper is ’n ou gunsteling wat jou hare bevog en beskerm. As jy gereeld jou hare stileer of sukkel met droë hare, is dit ’n goeie idee om gereeld een te gebruik. Maar jy hoef nie spesiaal ’n produk te gaan koop nie. Maak jou nat hare liggies droog met ’n handdoek en wend jou gewone opknapper aan van die middel van jou hare na die punte. Vermy jou kopvel en die hare naby jou wortels. Jy kan dit die hele dag in jou hare hou en later die aand afspoel.