Die dae van inperking het ons daaglikse roetine ingrypend verander en ons almal moes by ’n nuwe normaal aanpas. 

Besighede wie se dienste nie as noodsaaklik beskou word nie, se deure is nog toe. Dit kan dalk nog weke wees voor ons weer in ons gunsteling-haarkapper se salon kan gaan klets en nuwe haarstyle en -kleure probeer.

Het jy ’n kuif, is dit teen dié tyd al baie lank en moeilik om te stileer. Stiliste waarsku egter dis nie ’n goeie idee om dit tuis te probeer knip nie. 

So hoe gemaak met dié vreemde lengte? Hier is pragtige idees om jou lang kuif te stileer sodat dit steeds mooi lyk en jou nie heeldag pla of in jou gesig hang nie.

Netjiese bolla met glans

Dié haarstyl is perfek vir dae wat jy nie jou hare was nie. Borsel so bietjie haarolie deur jou hare vir ’n gladde voorkoms wat sal help keer dat jou kuif loskom. Dra die haarstyl ekstra hoog om seker te maak dat jou kuif ook met die haarrekkie vasgemaak kan word. 

FOTO Instagram / Hung Vanngo
FOTO Instagram / Demi-Leigh Tebow
FOTO Instagram / Leah

Kopband

Dié gewilde haarbykomstigheid is nou hoogmode en ’n vinnige manier om jou langer kuif te stileer. Kam eerstens jou hare netjies terug en sit dan dadelik die kopband in jou hare om te keer dat jou kuif weer vorentoe val.

FOTO Instagram / Jennifer Behr
FOTO Instagram / Jennifer Behr
FOTO Instagram / Jennifer Behr

Vlegsel

Kam jou hare in ’n kantpaadjie en vleg jou kuif stelselmatig in saam met van jou langer hare. Steek dit vas met ’n haarknippie. Jy kan ook haarsproei gebruik om seker te maak die vlegsel bly deur die loop van die dag mooi in plek.

Make-up artist work on a model in a studio.
FOTO Getty Images / Gallo Images

Haarknippe

Stileer jou hare in ’n kant- of middelpaadjie en maak jou kuif met treffende haarknippe vas. Haarknippe is in die kol om jou alledaagse voorkoms modern af te rond. Boonop help dit om jou kuif effektief uit jou gesig te hou.

WENK
Sproei die agterkant van die haarknip(pe) met haarsproei, dit sal help dat dit mooi in plek bly en nie uit jou hare gly nie.
FOTO Instagram / Olivia Palermo
FOTO Instagram / Lelet NY
FOTO Instagram / Lovisa

Bronne: www.harpersbazaar.com, www.allure.com