Die afgelope drie jaar klop ál meer vroue by haarsalonne aan vir permanente golwing. Maar moenie dink die eindresultaat is klein, stywe krulle soos dié van die 1980’s nie ... die moderne perm het eerder sagte golwe met effense tekstuur, byna asof jy van die strand af kom. Hoewel die formule van die behandeling steeds dieselfde is, het haarstiliste nou meer beheer oor die grootte en voorkoms van die krulle, danksy nuwe aanwendingstegnieke. 

Vir hare met ’n subtiele strandtekstuur word groter krulle, wat sagter en meer vloeiend lyk, net op jou haarlengtes geskep. So ’n perm is ’n goeie idee vir hare wat maklik plat en leweloos lyk, aangesien dit onmiddellik volume en beweging skep wat twee tot drie maande kan hou. 

Jou hare sal ook minder stilering nodig hê en jy kan dit minder gereeld laat kleur omdat die deel wat uitgroei, nie so sigbaar sal wees nie.

Wenk

Kies 'n bevogtigende krulroom of -sproei, pleks van 'n mousse, om jou golwe te definieer, sê Boyd Meilhon, meesterstilis by die haarsalon Karo Hair in Johannesburg. 'n Mousse-tekstuur is dikwels te hard en kan hare makliker laat breek.

Versorging:

Ná ’n permanente golwing is dit baie belangrik dat jy die skade herstel wat die chemiese proses aan jou hare aangerig het. ’n Goeie sjampoe, opknapper en masker wat vog en voedingstowwe in jou hare terugsit, is ononderhandelbaar, sê Karen Botha, bemarkingsbestuurder van die Brasiliaanse haarsorgreeks INOAR in Suid-Afrika. Om jou strandgolwe te stileer, vryf ’n krulproduk in jou klam hare en druk dit met jou vingers opwaarts. Laat dan jou hare vanself droog word.

Woman applying spray on curly brown hair close-up
FOTO Getty Images / Gallo Images

Probeer dié produkte:

INOAR Efeito Photoshop Shampoo en Conditioner (R500 vir albei) en Mask (R450). By uitsoeksalonne en aanlyn by www.inoar.co.za

Noughty Wave Hello Curl Defining Taming Cream (R150). By Clicks