Vroue met natuurlike hare dra vandag hulle hare met trots! Vroeër jare is chemikalieë gebruik om dié natuurlike hare meer hanteerbaar en reguit te maak.

Relaxers is ’n chemiese middel waarmee natuurlike hare behandel word om meer reguit te vertoon, dit kan wel skade aan beide jou kopvel én hare aanrig. Uiteindelik beweeg vrouens weg van die onnatuurlike metodes en laat hulle hare toe om met natuurlike tekstuur te pronk.

FOTO: Instagram/@abrahamsyolani

Dié patisseriesjef en mede-eienaar van die bistro-bakkery Kole & Deeg op Ceres, het met die SARIE-skoonheidspan oor haar natuurlike krullebos gesels.

1. Hoekom het jy besluit om jou hare natuurlik te dra?

My ma het altyd van kleins af my hare reguit gemaak, sy het rollers ingesit en dan het sy dit drooggemaak. Soms het ek vir twee ure in die son gesit om dit droog te kry. Daarna het sy dit nóg met 'n haardroeër geblaas. Dit vat omtrent ’n halwe dag net om jou hare mooi te maak.

My hare is baie fyn en dit kan maklik droog word. Al die hitte maak dat die natuurlike krul verlore gaan. Ek het uiteindelik my natuurlike hare net na matriek begin dra. Toe ek Stellenbosch toe gaan, het ek besluit ek gaan nou vir my ’n bossiekop maak! Ek gaan nie meer vir ure sukkel om my hare reguit te maak nie.

2. Wat is die grootste uitdaging met jou hare?

Ek moet elke dag my hare was en uitkam. En om die regte haarprodukte te kry, sekere sjampoe’s maak my hare baie droog en om iets te kry wat ek agterna vir glans kan insit, maar wat my hare nie olierig laat lyk nie. 

3. Wat is jou volledige haarsorgroetine?

Ek was my hare daagliks, maar gebruik slegs elke tweede of derde dag sjampoe. Ek bou so bietjie natuurlike olie op sodat my haarwortels gesond kan wees.

Daarna wend ek ’n opknapper aan my hare aan. Ek verkies sulfaat-vrye produkte, want dit hou my hare sag en kam dan makliker uit. Ek sit laastens klapperolie in my hare. Ek gaan ook maandeliks vir ’n behandeling by die haarsalon.

4. Laat jy dit dan natuurlik droog word? Kam jy jou hare?

Daar is twee maniere waarvan ek gebruik maak. Met die eerste metode kam ek my hare goed uit en verdeel dit in kleiner gedeeltes. Dié gedeeltes draai ek in die rondte om lokkies te vorm. Ek blaas dan my hare droog en gebruik sommer my hande om mooi die afro-vorm te kry.

Die tweede manier is om my hare net uit te kam en dan te stileer. Ek laat my hare dan toe om self droog te word.

5. Wat is jou raad aan ander vroue wat ook hul hare natuurlik wil begin dra?

Aanvaar wat die Here vir jou gegee het en maak dit werk. Dit is wat jou uniek maak. Dis asof vrouens hulself wegsteek wanneer hulle nie hul natuurlike hare dra nie. Go natural, dis die beste!

FOTO: Instagram/@abrahamsyolani

Bronne: www.thelist.com